LettersOpinion

Brief: Hof verklaar Aarto ongrondwetlik

Die Aarto-wetgewing het daardeur in sy kernoogmerk misluk en die wetgewing kan daarom nie anders as om ongrondwetlik wees nie.

Adv. Anton Alberts, Vryheidsfront-Plus, nasionale voorsitter, skryf:

Die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat die Aarto-stelsel in sy geheel ongrondwetlik is, onderskraag die VF-Plus se standpunt wat van meet af die stelsel as ongrondwetlik en baie gevaarlik beskou het.

Die VF-Plus wens ook die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) baie geluk met sy suksesvolle aansoek om Aarto ongrondwetlik te laat verklaar.

Die VF-Plus het reg van die begin af gewaarsku dat die stelsel kompleks is en nie sy doelwit sal behaal om die land se paaie veiliger te maak nie.

Die toetsfase van Aarto, wat in drie Gauteng-metro’s geloods is, het duidelik getoon dat beserings en sterftes weens padongelukke geensins gedaal het nie, maar eerder toegeneem het sedert die implementering van die stelsel.

Die Aarto-wetgewing het daardeur in sy kernoogmerk misluk en die wetgewing kan daarom nie anders as om ongrondwetlik wees nie.

Die stelsel is ook gesofistikeerd en vereis ’n omgewing van integriteit en hoë standaarde om te werk.

Daar is geen sodanige omgewing geskep nie. Inteendeel, die nuwe stelsel het eerder die omgewing geskep vir talle misbruike tot nadeel van die publiek. Boetes is byvoorbeeld in Gauteng te laat uitgereik in terme van die wetlike voorskrifte wat dit onwettig maak, terwyl dit steeds afgedwing is aan ’n onkundige publiek.

Verder is geen behoorlike infrastruktuur daargestel om die groot aantal vertoë te hanteer nie.

Die Johannesburg-metropolisie het in ’n stadium Aarto-funksies uitgevoer waarvoor hy nie gemagtig was nie, soos om self met vertoë te handel. Daarby het die metropolisie by talle geleenthede padversperrings geskep waar motorryers gedwing is om onmiddellik hul boetes te vereffen, terwyl die wetgewing geensins sodanige optrede magtig nie.

Die ergste geval van Aarto-wanbestuur was die tye waar daar maande lank geen boetes uitgereik is nie.

In hierdie tye was daar in effek geen polisiëring van wetsverbreking op die paaie in die drie Gautengse metro’s nie, aangesien die werking van die vorige, meer doeltreffende strafproseswet om padverwante misdrywe te vervolg, opgeskort is.

Roekelose bestuurders kon dus in daardie tye sonder vervolging op die paaie ry.

Aarto is in wese ’n simbool van die ANC-regering se onbevoegdheid om enige moderne stelsel tot voordeel van die land te bestuur.

Die uitspraak van die hooggeregshof bring ’n verdere vraag na vore en dit is asof almal wat Aarto-boetes betaal het, dit kan terugeis.

Benewens die moontlikheid van appèl teen die bevel deur die regering, sal hierdie vraag in die agtergrond bly hang met groot finansiële gevolge vir die regering.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button