LettersOpinion

Brief: So dans-dans die Nuwejaar in

Ek glo nie in onrealistiese Nuwejaarsvoornemens nie. Dit plaas onnodige druk op my en hou gewoonlik nie eens tot einde Januarie se salarisbetaling nie.

Mariette Nicholson, Modimolle, skryf:

Dit is 2022 en ’n nuwe jaar lê voor.

Ek glo nie in onrealistiese Nuwejaarsvoornemens nie. Dit plaas onnodige druk op my en hou gewoonlik nie eens tot einde Januarie se salarisbetaling nie.

’n Ma van my ouderdom het nie dié soort negatiwiteit nodig nie. Daarom het ek vanjaar vir my ’n realistiese “N”-lysie opgestel:

Nuwe vooruitsigte en uitdagings: om negatiwiteit te vermy en uit te sien na die onbekende wat voorlê;

Nimmereindigende geloof, hoop en liefde: om altyd te onthou waar my hulp vandaan kom, nooit moedeloos te raak nie en om onvoorwaardelik lief te hê.

(Des)nieteenstaande Die Plaag (Covid-19) en die brandstofprys positief te bly in ’n wêreld vol negatiwiteit en onsekerheid.

Noodgewonge aan te pas by die “nuwe normaal” deur my masker met flair te dra en blymoedig te “snoepgroet” (elmboog gooi sonder om drukkies te mag uitdeel).

Naastenby my eetgewoontes aan te pas om sodoende goeie gesondheid te verseker (maar beslis nie myself uit te honger nie!).

“New moves” te doen:

om meer te oefen, al beteken dit om saans kaalbas om die wasgoedpaal in my agterjaart te dans (omdat ek nie ’n gymkontrak kan bekostig nie en kaalbas-jaartdans in elk geval baie meer opwindend is) en “Never mind” die aanslae wat die lewe bring … nogtans te juig en my seëninge te tel.

Bring it on … ek is gereed vir 2022.

Related Articles

Back to top button