LettersOpinion

Brief: Toeka se nuwejaarsvieringe

Daardie jare was daar streng reëls en regulasie van toepassing op perdewedrenne en spesiale permitte moes vooraf verkry word.

Gawie Richter, Modimolle, skryf:

In die vroeë 1950’s en 60’s is Kerstyd met oorgawe op Mambaklip by Dwarsberg in die Groot Marico-omgewing (Noordwes) gevier.

Besoekers het van oraloor gekom en van voor Kersdag tot ná Nuwejaar kamp opgeslaan. Daar was talle jolige boeresportkompetisies en almal het ook uitgesien na die perdewedrenne wat op Nuwejaarsdag plaasgevind het.

Renperdeienaars het reeds ’n paar dae vooraf begin opdaag sodat hul perde gewoond kon raak aan die baan. Dit het die opwinding laat toeneem onder die manne wat graag ’n geldjie op die perde gewaag het.

Daardie jare was daar streng reëls en regulasie van toepassing op perdewedrenne en spesiale permitte moes vooraf verkry word. Inspekteurs van die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie (TPA) het ook gereeld opgedaag om te verseker dat die ontvanger van inkomste hul regmatige deel van die woekerwins kry.

So het dit een jaar — bykans 70 jaar gelede — gebeur dat die nodige permitte nié die organiseerders betyds bereik het nie, waarop die inspekteur die wedrenne summier stopgesit het. Terwyl die renperde reeds op die baan rond getrippel het, wou die manne die inspekteur oor die kole haal.

As polisiestasiebevelvoerder in die area was dit my plig om wet en orde te handhaaf. Om die vrede te bewaar en ’n groot vuisgeveg te voorkom, het ek en die hooforganiseerder, ’n boer wat self ook renperde besit, in die geheim ’n plan bedink. Die aankondiging is gemaak dat daar op die betrokke dag slegs geld op die laaste drie verloorperde gewed kon word.

Met die eerste wedren was dit ’n Babelse verwarring waarna die inspekteur die pad gevat het. Daarna kon die weddenskappe en wedrenne ongehinderd voortgaan soos gewoonlik.

Ongelukkig is al die plase in daardie omgewing in 1975 by Bophuthathswana ingesluit waarna die boeresport- en perdewedrentradisie by Mambaklip tot ’n einde geloop het.

Related Articles

Back to top button