LettersOpinion

Brief: Ek het my les geleer, sê ‘die tannie’

Ek is net ’n mens. Pretensieus. Soos die meeste van ons maar is.

Tannie Bettie, via -epos, skryf:

Beste hooggeagte bekende sanger, ek is die dikkerige tannie langs wie jy nou die dag in die vliegtuig gesit het.

Goed, ek was onkant gevang, maar jy moet tog weet dat ek jou as ’n geliefde familielid beskou.

Jy is immers ’n huishoudelike naam. My kinders het grootgeword op Pronutro en jou inspirerende lirieke wat ons op pad skool toe geluister het.

Jou liedjies rol glad oor my lippe en ek is persoonlik een van jou kranigste kampvegters.

Ag, ek het jou goed leer ken deur die staaltjies wat jy tydens jou konserte vertel het. Jy het jou menswees so vrylik en pretensieloos — sonder masker of fasade — met die skares gedeel. Wanneer die kinders CD’s wou koop en tot laatnag nog in rye wou staan om hand te skud, het ek en die oom toegegee.

Dan het ons maar buite onder ’n boom soos uile op ’n kluit gesit en wag totdat die kinders blinkoog kom vertel van die flertse gesels wat hulle met jou gehad het.

Weet jy, ek is nie onder normale omstandighede van die vrypostige of opdringerige soort nie.

Eintlik ken ek my plek baie goed en kan ek myself in uitgelese geselskap redelik beskaafd gedra. Ek was net buitengewoon uitbundig daardie dag op die vliegtuig. Jy sien, ek het my oudste seun deur matriek gekry. Dit was nie maklik nie. Dit was inderdaad ’n opdraande stryd. (Ek sê vir die oom ek sal moet waak teen die post-traumatiese stres wat moontlik ná die uitmergelende matriekjaar my voorland mag wees.)

Jong, akademie is nie my oudste se belangstelling nie. Musiek wel. Hy is ’n fynbesnaarde, kunstige siel. Nes jy.

Hy wil eendag ’n musiekvervaardiger word. Jy moet van sy gedigte lees! Beter sou ek dit self nie kon doen nie. Maar wag, ek dwaal van die punt af.

Jy het natuurlik gehoop dat geen bemoeisieke tannie ’n tweede kyk in jou rigting sou gee nie, vandaar die hoed en die neergeslane oë.

Masker opgetrek tot onder jou ooglede. Koue skouer. Haai ja, ek dink nou net, hulle sê mos die appeltjie val nie ver van die boom af nie.

Nie dat akademie níé my belangstelling was nie — ek het goed geslaag. Nog in die vorige bedeling, so jy moet weet ek is darem nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.

Maar daardie sensitiewe kant van my appeltjie-kind …ek vermoed hy het dit by my gekry.

Ja, hooggeagte sanger, dit maak ’n bietjie seer as jy nie ’n renostervel het nie, geen kwade bedoelings, net opregte ongeveinsde vreugde en dan jou onbeantwoorde vraag in die vliegtuigkajuit hoor eggo.

Ek is net ’n mens. Pretensieus. Soos die meeste van ons maar is.

Ná dese sal ek nie sommer weer met ’n bekende persoonlikheid ’n geselsie probeer aanknoop nie. Jy het jou mede-kollegas ’n guns bewys — een minder tannie wat hulle sal stormloop.

Dalk omdat hierdie tannie ’n klein kykie agter die masker kon kry.

Voortaan sal ek my vriendelike self berispe. Myself wyslik beteuel. Myself stilletjies in my boksie skuilhou. Mooitjies agter my masker.

Vriendelike groete, tannie Bettie.

NS. Ek behou myself die reg voor om wel in uitsonderlike gevalle ’n geselsie te maak: dalk net as dit AB of Rassie is.

Related Articles

Back to top button