LettersOpinion

Brief: Onderwys verloor ’n staatmakervrou

Haar diens is vasgevang in die skatkamers van elke leerder se hart wat deur hierdie bekwame vingers aangeraak is.

Paul Liddle, Hoërskool Warmbad-skoolhoof, skryf:

Dit is vir my ’n groot eer om ’n lofrede te bring vir ’n besondere vrou wat jare lank die gemeenskap van Bela-Bela gedien het.

Amanda Janse van Vuuren, jare lank bekend as Jinnah Park Primary School se hoof, het nie haar pos met talle toekennings, weelde en tierlantyntjies “versier” nie. Haar diens is vasgevang in die skatkamers van elke leerder se hart wat deur hierdie bekwame vingers aangeraak is.

Sy het op 4 Februarie1991 as onderwyser by Jinnah Park Primary School begin skoolhou. Sy het in Augustus 1995 as skoolhoof oorgeneem en in Julie vanjaar het sy die tuig neergelê.

Dit is 30 jaar se bloedsweet, energie en passie wat sy in ons gemeenskap gesaai het.

Met haar aanstelling as hoof was daar 95 ingeskrewe leerders by Jinnah Park Primary School wat vier klaskamers in beslag geneem het.

Op die dag van haar uittrede was daar 883 leerders wat 21 klaskamers volgesit het. Jinnah Park is nog altyd geklassifiseer in die kwintiel 1-3-skoleklassifikasie wat beteken het dat sy met kreatiewe planne vorendag moes kom om die alledaagse verloop van haar skool te kon verseker.

In haar 27 jaar as hoof het sy nie net die skool se klaskamers uitgebrei nie, maar ook toegesien dat die skool ’n splinternuwe administratiewe gebou bygekry het.

Op die terrein begroet ’n netjiese tuin met pragtige roosbome jou net voor jy die kantoorblok betree. En glo my, daar is talle ander veranderings en verbeterings wat sy bewerkstellig het. Die lys gaan werklik aan en aan.

Dit is vir my hartseer dat so ’n juweel van ’n vrou nie die hoë agting gekry het wat sy verdien nie, veral van die huidige skoolbeheerliggaam wat nie eens vir haar ’n waardige afskeid kon reël nie.

Ons is dankbaar vir persoonlike vriende van Amanda wat ingegryp het en haar en haar eregaste by die familierestaurant, Langplaas, bymekaar gebring het en op ’n baie spesiale wyse, eg aan haar karakter, haar nuwe seisoen saam met haar betree het.

Ek wil in besonder vir Micheal Pashut van Minibus Wanted bedank. Hy is ’n staatmaker in tye van nood. Ek weet van min mense wat soveel kennis, vaardighede en tegnieke na die klaskamer gebring het wanneer dit kom by toneel en drama. En ja, ek verwys letterlik na drama en nog drama. Of dit individuele klasse, dramagroepe of die mantel van beoordeling was wat sy moes dra, dit was vir haar geen moeite nie.

Haar voete ken die spreekwoordelike “ek- stra myl” al te goed, want sy is die rede dat Limpopo met trots aan kultuuraktiwiteite deelneem.

Haar insette en passie pomp nie net in ons gemeenskap se are nie, maar van haar leerders pronk op die internasionale verhoë.

Die departementele vergaderings, asook ander vergaderings, is maar futloos sonder haar pittige opmerkings.

Tannie Amanda (soos sy vir my heet), Tannie het 38 jaar gelede soos die profeet van ouds geantwoord: “Hier is ek, Here, stuur my.”

Dit is vir my ’n onbeskryflike groot voorreg om Tannie op hierdie platform ook te groet.

Ek weet ek is ’n spreekbuis vir talle en ek glo met die ontmoeting van ons Verlosser en Saligmaker, sal Tannie hierdie woorde hoor: “Gaan in, getroue dienskneg. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.” Geniet die kleinkinders, Tannie se “jong man” en die “water aerobics”.

Met baie liefde en hoë agting, Paul Liddle.

Related Articles

Back to top button