LettersOpinion

Brief: Goedkoop word duurkoop

Inwoners het al ’n stel afgetrap met swak gehalte produkte wat teen baie bekostigbare pryse van die hand gesit word.

Ontevrede inwoner, Modimolle, skryf:

Ek skryf baie selde ’n brief vir ons plaaslike koerant, Die Pos, maar ek dink hierdie keer is dit geregverdig.

Ander inwoners van ons dorp en omgewing het dalk al dieselfde stel afgetrap met swak gehalte produkte wat teen baie bekostigbare pryse van die hand gesit word in sekere volksvreemde winkels in die dorp.

By navraag kon die personeellede nie vir my sê hoeveel koeverte daar in ’n pakkie is nie en ek het toe vier pakkies gekoop in die hoop dat dit voldoende vir my taak sou wees. Die prys was R25 per pakkie.

Tot my ontsteltenis moes ek tuis ontdek dat die koeverte geen gom aan het nie en dus nie aangewend kan word vir die doel waarvoor ek dit gekoop het nie.

Sowat 14 dae later is ek weer in Modimolle en gewapen met my strokie wou ek die koeverte in hul oorspronklike verpakking teruggee.

Ek is egter op ’n onbeskofte wyse ingelig dat my strokie toon dat geen terugbetalings gedoen word nie.

Ek is druipstert daar uit met my winskoop wat toe my “duurkoop” geword het.

My seun het my toe daarop gewys dat ek in die toekoms liewer met mense moet sake doen waar daar ’n wedersydse vertroue bestaan.

Related Articles

Back to top button