LettersOpinion

Brief: Verkiesing neem my ver terug

Nadat elkeen se kruisie getrek is, het kiesers saam met hul gesinne op die plaaswerf uitgespan.

Gawie Richter, Bosveldsig, Modimolle, skryf:

Die afgelope verkiesing het my gedagtes ver teruggeneem.

Ek is in die vroeë sestigs as stasiebevelvoerder saam met die landdros van Swartruggens tydens die algemene verkiesing as stembusbeamptes op die plaas Holfontein aangestel.

Daar was destyds slegs twee politieke partye — die Natte (oftewel die Nasionale Party) en die Sappe (Verenigde Party) wat meegeding het.

Die plaasopstal se sitkamer het as stemlokaal gedien en op die voorstoep was die groot stoeptafel gepak met eetgoed en drinkgoed. Daar was geen afskortings in die sitkamer nie, maar dit was ook geen geheim vir watter kandidaat elke kieser sou stem nie.

Sodra kiesers op die plaas opgedaag het om hul kruisies te trek, is hul aankoms luidkeels deur die twee politieke partye se voorlopers aangekondig met: “Daar kom joune!” of “Dié een is myne!”

Nadat elkeen se kruisie getrek is, het kiesers saam met hul gesinne op die plaaswerf uitgespan.

Die Volksraad en Provinsiale Raad het deur die loop van die middag besoek afgelê op die plaas om toe te sien dat alles ordelik verloop.

Twee boere is kort ná die besoek daar weg met hul bakkies om kwansuis nog mense te gaan haal wat nog nie gestem het nie.

Die twee bakkies het net voor sononder weer op die plaaswerf aangekom.

Thys Nortjé, bekende konsertinaspeler en ’n bobaas mampoerstoker, het uit die een bakkie te voorskyn gekom terwyl die ander bakkie vol braaivleis gelaai was.

Die manne het soos bye om ’n heuningkoek om die twee bakkies gedraai en haastig van my en die landdros probeer ontslae raak, “want almal het mos nou klaar gestem”.

Dit was so duidelik soos daglig dat nie ek of die landdros by hul feesvieringe welkom was nie.

Ons was nog besig om stembokse te seël en op te pak, toe Thys en sy boereorkes weggetrek het met ’n wals.

Groot was ons verbasing toe ons sien hoe die Natte met die Sappe se vroue dans en andersom — die stemmery en verskille totaal vergete.

Related Articles

Back to top button