LettersOpinion

Brief: Veediefstal moet gestuit word

Die nare werklikheid is dat die feesseisoen om die draai is en veediefstalle sal toeneem.

Bennie van Zyl, TLU SA -hoofbestuurder, skryf:

Daar moet na ’n volgende rat oorgeskakel word indien Suid-Afrikaners ’n daadwerklike impak op veediefstal wil sien.

Die huidige stand van sake is reeds onaanvaarbaar en die nare werklikheid is dat die feesseisoen om die draai is en veediefstalle sal toeneem. Misdaadstatistiek vir vanaf 1 April tot 30 Junie 2021 toon ’n afname van 8% in veediefstal. Moet egter nie dat hierdie statistiek jou flous nie.

Hoewel daar in ses provinsies afnames in diefstal was, het die getalle in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga toegeneem.

Mense moet ook in ag neem dat boere die laaste tyd al hoe meer vertroue in die polisie verloor het en uit pure moedeloosheid nie meer sake aanmeld nie. Die afname is dus oëverblindery.

Boere het vertroue in die polisie verloor en nie sonder rede nie.

Veediefstal is ’n groot georganiseerde bedryf met groot geld op die spel. Daar word tans net sowat 20% van die sake aangemeld en ’n skamele 4% van die sake word suksesvol afgehandel.

Kanse om die boewe vas te trek, is reeds so skraal en dan is die forensiese werk wat veediefstal betref nie op standaard nie.

Daar is ook die DNS-databasis wat met sowat 400 000 monsters uitstaande is. Intussen steel die boewe voort.

In Suid-Afrika word 2-5% van alle kalfies gesteel. Een van die vernaamste bekommernisse en uitdagings is die aantal sake wat aangemeld word teenoor die aantal veediewe wat deur die howe skuldig bevind word.

Dit is algemeen bekend dat die brandmerk van vee ingevolge wetgewing verpligtend in Suid-Afrika is.

TLU SA neem kennis van die stappe wat die polisie neem en is uit die aard van die saak dankbaar.

Ons ondersteun die polisie waar ons kan, maar is dit te veel gevra dat die regering en die polisie ’n groter impak moet maak in die bekamping van veediefstal?

Is die straf vir veediefstal enigsins ’n afskrikmiddel? Dit ontmoedig boere as hulle nie op hul eie, of met die polisie se hulp, ’n verskil maak aan die probleem nie.

Boere moet gedurende die feesseisoen bykomende maatreëls tref om diefstalle te voorkom. Hulle moet by hul plaaslike veiligheidstrukture inskakel.

Indien hulle skade aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou totdat die saak in die hof besleg word.

Related Articles

Back to top button