LettersOpinion

Brief: Jag op privaat eiendom ruk handuit

Bedreigde spesies loop die gevaar om op hierdie manier uitgewis te word.

Bertus van der Westhuizen, voorsitter, TLU-Vrystaat, skryf:

Die onwettige jag met honde op privaat eiendom is besig om handuit te ruk.

Dit skep ’n reuseprobleem vir vee- en wildboere aangesien geen boer kan toelaat dat sy diere op hierdie wrede manier uitgewis word nie.

Honde is wrede jagters en ruk hompe vleis uit lewendige prooi totdat die stomme dier só deur pyn verswak is, dat hy of sy nie meer kan vlug nie. Wanneer die jagter of jagters dan op die toneel verskyn, word die dier dikwels met byle afgemaai.

Geen boer beskou hierdie manier van jag as ’n sport of vermaak nie en sal beslis tot beheersde geweld oorgaan om sy diere teen hierdie praktyk te beskerm.

Bedreigde spesies soos byvoorbeeld steenbokkies loop die gevaar om op hierdie manier uitgewis te word.

Dit is noodsaaklik vir die polisie om hierdie soort misdaad in ’n meer ernstige lig te beskou en meer moet gedoen word om hierdie praktyk stop te sit. 

Daar lê groot konflikpotensiaal in hierdie misdryf opgesluit — nie net konflik tussen gemeenskappe nie, maar ook tussen boere en die polisie self.

TLU SA se Vrystaat-tak neem sterk standpunt in teen dié wrede praktyk van jag en doen ’n ernstige beroep op die polisie en die regbank om boere by te staan in hul stryd teen hierdie misdaad eerder as om van die boere misdadigers te probeer maak. Boere wil inderwaarheid die polisie se hand in die stryd teen onwettige jagpraktyke versterk.

Ons doen ’n beroep — nie net op lede nie, maar op boere van regoor die land — om nie hierdie soort misdryf op hul grond toe te laat nie en om dit met alle middele tot hul beskikking binne die wet te beveg.

Indien dit nie vinnig aangespreek word nie, sal die praktyk ’n verwoestende effek op ons natuurlewe en toerismebedryf hê.

Boere moet deeglik rekord hou van die tyd, polisiebeampte se naam en hoe lank hulle wag vir opvolg en bystand as ’n saak aangemeld word.

Related Articles

Back to top button