LettersOpinion

Brief: Diefstal van sypaadjieplante is ’n skande

Die dief is heel moontlik ’n plantkenner of -versamelaar.

Inwoner van Tuin Tuiste-aftreeoord, Bela-Bela, skryf:

Die inwoners van Tuin Tuiste-aftreeoord het ’n ruk gelede besluit om die tuin by die oord se ingang op te knap sodat dit ’n sieraad vir die inwoners is en ons oord se naam gestand doen.

Geen plante is gekoop nie, maar plante is op die terrein geoes en verplant of deur inwoners van die oord geskenk.

So is daar ’n kokerboom, van ongeveer 2,5 m wat deur een van die inwoners geskenk en op die sypaadjie geplant is.

Die boom is baie jare lank deur die skenker as ’n potplant vertroetel, maar omdat die boom te groot geword het vir die pot waarin dit geplant was, het die eienaar besluit om sy troetelplant aan die oord te skenk.

Groot was my skok en teleurstelling toe ek die afgelope week verneem het dat die kokerboom gesteel is.

Die dief is heel moontlik ’n plantkenner of -versamelaar.

Ek hoop hy of sy geniet die gesteelde kokerboom en versorg hom goed, maar ek hoop ook die persoon kry skaam as hy of sy dié brief lees.

Related Articles

Back to top button