LettersOpinion

Brief: Slange noodsaaklik vir natuur

Net soos enige ander wilde dier moet slange ook bewaar en beskerm word, want hulle speel ’n belangrike rol in die natuur.

Theunis Victor, slangvanger en -kenner, Modimolle, skryf:

Ek reageer graag op “Ontstoke inwoner van die Waterberg” se brief oor swartmambas wat in Die Pos se uitgawe van Vrydag 24 September verskyn het.

Ek wil eerstens my simpatie uitspreek teenoor oor die skrywer se verlies met die dood van sy of haar geliefde honde.

Die meeste honde, veral Jack Russel-hondjies, wil hul eienaars beskerm en sal dus instinktief ’n slang aanval, wat soms noodlottige gevolge het. Daarteenoor kan die slangvangers in die omgewing uit jare se ondervinding getuig dat daar selde mense deur mambas gebyt word.

Daar word bykans geen sterftes weens slangbyte aangemeld nie omdat ons binne twee ure van goeie hospitale geleë is. Ons raai mense aan om dadelik ’n ambulans te ontbied sodat die persoon so gou as moontlik na ’n hospitaal, wat oor die nodige teengif beskik, geneem kan word om die korrekte behandeling te ontvang.

Net soos enige ander wilde dier moet slange ook bewaar en beskerm word, want hulle speel ’n belangrike rol in die natuur.

Slange help om peste soos rotte in toom te hou. Hulle is ook prooi vir ander slange, ratels, roofvoëls en muishonde, om maar ’n paar te noem, en is dus ’n belangrike skakel in die voedselpiramiede.

Giftige slange word gebruik om teengif te vervaardig wat mens en dier se lewens kan red.

Wanneer giftige slange, veral mambas, gevang word, word gepoog om hulle so ver as moontlik weg van enige mense of nedersettings in die natuur vry te laat.

Daar word rondgebel op soek na geskikte plekke by groot wildreservate in die Waterberg-omgewing.

Ek wil namens die professionele slangvangers alle inwoners verseker dat mense, en veral jong kinders, na aanleiding van die onlangse voorval waar ’n kind deur ’n swartmamba gebyt is, se welstand vir ons van kardinale belang is.

Daarmee saam probeer ons om mense meer in te lig oor slange en wat hulle te doen staan wanneer hulle op ’n slang afkom, of deur een gebyt word.

Ons is 24-uur per dag beskikbaar om ons gemeenskap by te staan en te help in tye van nood.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button