LettersOpinion

Brief: Vrae wys op verval van munisipaliteite

Van hierdie 45% munisipaliteite implementeer slegs 10% die planne ten volle, oftewel minder as 5% van alle munisipaliteite in die land.

Michal Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), skryf:

Die verval van munisipaliteite in Suid-Afrika en die rol van ANC-binnegevegte hierin, is ’n kommerwekkende werklikheid en vrae van die VF-Plus aan onder andere die minister van plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, bevestig dat die situasie só haglik is dat krisisbestuur normale dienslewering grootliks vervang het.

Op ’n vraag oor planne vir die onderhoud van infrastruktuur regoor Suid-Afrika, en waar dit volledig of gedeeltelik in werking gestel is, blyk dit uit Dlamini-Zuma se antwoord dat slegs 45% van alle munisipaliteite in die land planne het vir die instandhouding van infrastruktuur vir hul onderskeie munisipale dienste.

Van hierdie 45% munisipaliteite implementeer slegs 10% die planne ten volle, oftewel minder as 5% van alle munisipaliteite in die land. Luidens die ouditeurgeneraal (OG) se verslag ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) het 41% van die geouditeerde munisipaliteite geen goedgekeurde beleid oor die roetine-instandhouding van water- en sanitasieinfrastruktuur nie, terwyl 27% geen padonderhoudsplanne het nie.

Dit beteken dat paaie by ’n derde van munisipaliteite landwyd verval sonder enige onderhoudsplan. In antwoord op die vraag oor die stappe wat geneem word om die negatiewe gevolge van politieke binnegevegte op dienslewering te voorkom, erken die minister dat dit munisipaliteite se vermoë om diens te lewer benadeel word, maar dit blyk ook dat niks daadwerklik daaraan gedoen word nie.

Die minister het ’n onbeduidende antwoord gegee oor wat gedoen moet word om die binnegevegte stop te sit, asook ’n lys van raadslede se pligte.

Hierdie antwoord was absoluut niksseggend en dien as bewys dat die ANC geen voorkomende plan het om sy eie binnegevegte, wat reeds talle lewens geëis het, te bekamp nie.

In antwoord op die kwessie van gespesialiseerde kundigheid soos ingenieurs in die onderskeie afdelings op plaaslike vlak, blyk dit dat daar tans 53 vakatures vir die poste van tegniese direkteur by munisipaliteite is.

Oor hoe die tekorte reggestel gaan word, is die antwoord dat plaaslike owerhede nie wetlik verplig word om kundiges soos geregistreerde meganiese-, elektriese-, siviele- en chemiese ingenieurs in diens te neem nie.

Volgens die minister volg elke plaaslike owerheid ’n goedgekeurde organisasie-struktuur om mense met vaardighede in ooreenstemming met toepaslike regulasies en behoeftes aan te stel.

Die VF-Plus sien hierdie tekort aan kundigheid as ’n groot rede vir die verval vaan infrastruktuur en dit kan grootliks toegeskryf word aan die gevolge van regstellende aksie (RA) wat ’n direkte impak op dienslewering het. (Brief verkort. — Red.)

Related Articles

Back to top button