LettersOpinion

Brief: DA moet híér ook ingryp

Die kommer oor dié twee rioolaanlegte is nie ’n nuwe onderwerp nie.

Wiets Botes, voorsitter, Waterberg-sakekamer, skryf:

Daar is onlangs in die media berig dat Desirée van der Walt, DA-lid van die nasionale vergadering, ’n amptelike klag teen die Bela-Bela-munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien het oor die versuim om die Bela-Bela-rioolaanleg instand te hou.

Die Bela-Bela- gemeenskap het sonder twyfel waardering vir Van der Walt se optrede, maar hoe gemaak met die rioolprobleme in Modimolle en Mookgophong?

Die kommer oor dié twee rioolaanlegte is nie ’n nuwe onderwerp nie. Die Vryheidsfront Plus het reeds in Februarie 2019 ’n amptelike klag by die MRK teen die Modimolle-munisipaliteit gelê.

Die verlies aan water vir herverbruik beloop megaliters terwyl die omvattende besoedeling in die dorp, asook in die Nylsvley-bewaringsgebied, etlike jare sal neem om te rehabiliteer.

AfriForum se tak in Mookgophong het die munisipaliteit vroeër vanjaar hof toe gesleep oor die versuim om die dorp se rioolaanleg in stand te hou.

Albei aanlegte is sedert Januarie 2021 op die agenda van die maandelikse vergaderings tussen die munisipaliteit en die sakekamer, maar ons moet telkens hoor dat daar wel “aandag aan die probleem gegee word”.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het tydens ’n openbare inligtingsvergadering op Maandag 6 September in Modimolle voet by stuk gehou dat die Modimolle-aanleg ten volle operasioneel is, maar toe verteenwoordigers van AfriForum Pretoria die aanleg op Woensdag 8 September besoek het, het hulle met ’n skok besef dat dit nie die geval is nie.

Die volgende dag is ’n verklaring deur die burgemeester uitgereik waarin beweer word dat die aanlegte (en probleme) eintlik die verantwoordelikheid van die nasionale departement van water en sanitasie is.

Ná verskeie vrugtelose pogings om die rioolprobleme op te los, rig ons nou ’n dringende hulpkreet aan Desirée Van der Walt om by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in te gryp sodat daadwerklike oplossings vir die vuisvoos gemeenskap gebied kan word.

Related Articles

Back to top button