LettersOpinion

Brief: Werkloosheid in Suid-Afrika: Geen draaipunt in sig nie

Die werkloosheidsyfer het nou tot 34,4% gestyg en is die hoogste sedert die begin van die peiling in 2008.

Heloïse Denner, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Arbeid, skryf:

Die jongste werkloosheidsyfers vir die tweede kwartaal van 2021 wat Statistiek Suid-Afrika op Donderdag 26 Augustus bekend gemaak het, weerspieël soos verwag ’n voortslepende bloedbad van werkverliese in die land.

Die werkloosheidsyfer het nou tot 34,4% gestyg en is die hoogste sedert die begin van die peiling in 2008.

’n Styging was te wagte, inaggenome die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings wat tot die verlies van verskeie werksgeleenthede gelei het, maar selfs met die verslapping van hierdie inperkings hou die werkloosheidsyfer aan styg en sien ons nie dieselfde mate van herstel in die arbeidsmark as in die res van die ekonomie nie.

Wat veral kommerwekkend is, is die jeug- werkloosheid en die uitgebreide werkloosheidsyfer wat ontmoedigde werksoekers insluit wat tot 44,4% gestyg het met 3,4 miljoen vergeleke dieselfde tydperk in die vorige jaar.

Sowat 64,4% van die jeug tussen die ouderdomme 15 en 24 is werkloos en 33% of 3,3 miljoen van hierdie ouderdomsgroep het geen vorm van onderrig of opleiding nie.

Jeugdiges tussen die ouderdomme 25 en 34 se werkloosheidsyfer is 42,9%.

Die feit dat werkloosheid onder die jeug uitermatig styg, dui op ’n sistemiese probleem wat bloot tot verdere en volgehoue werkloosheid sal lei.

Daar is verskeie faktore wat aanleiding gee tot die volgehoue styging in die werkloosheidsyfer, waarvan die Covid-19-pandemie maar een is.

Die werklike kernoorsake sluit in een van die swakste onderwysstelsels in die wêreld, verkeerde ekonomiese prioriteite, swak politieke leierskap en die algehele mislukking van die regering om die privaat sektor as die grootste werkskepper in die land te bemagtig om die arbeidsmark te stimuleer.

Die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal sal bydra tot die stygende werkloosheidsyfer wat na afloop van die derde kwartaal waarskynlik nog hoër sal wees.

Related Articles

Back to top button