LettersOpinion

Brief: President Ramaphosa tas mis in parlement

Die mislukking van die werk van die ongevallekommissaris en noodbystand soos die Ters-fonds is enkele voorbeelde, terwyl werkloosheid onder hom rekordvlakke bereik het.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) –leier skryf:

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n gulde geleentheid verlore laat gaan om kabinetskuiwe te maak wat ’n daadwerklike verskil sou maak aan leierskap en vertroue op die hoogste vlak in Suid-Afrika.

Een van die grootste flaters was die aanstelling van Enoch Godongwana as nuwe minister van finansies in die plek van Tito Mboweni, wat bedank het. Godongwana het ’n omstrede verlede en hy is meermale by ongerymdhede betrek, ook waar hy en gesinslede betrokke was.

Een van die omstrede voorvalle was in 2004 toe hy as LUR vir finansies in die Oos-Kaap afgedank is ná bewerings van wanadministrasie en korrupsie.

Hy het ook onder die Zuma-administrasie bedank as adjunk-minister van ekonomiese ontwikkeling ná bewerings van ’n bedrogspul van sowat R100 miljoen.

Sy aanstelling sal daarom hoegenaamd nie bevorderlik wees vir plaaslike of internasionale sakevertroue nie en maak ’n bespotting van Ramaphosa se beloftes van skoon administrasie.

’n Pluspunt is die aanstelling van Thandi Modise as minister van verdediging, hoewel haar vertrek ’n gevoelige slag sal wees vir die parlement waar sy goeie werk gedoen het as speaker.

So ook die aanstelling van Joe Phaahla as nuwe minister van gesondheid wat vertroue inboesem met sy ervaring in die mediese beroep en meer sekerheid skep.

Die feit dat staatsveiligheid voortaan in die presidensie gesetel sal wees met Mondli Gungubele as nuwe minister in die portefeulje van minister in die presidensie wys ondubbelsinnig die president se gevoel dat faksies in die ANC hom ondermyn het en selfs probeer het om hom omver te werp met die onlangse geweldpleging in die land.

Die onbevoegdheid van die polisie was een van die groot redes waarom die protesaksies en geweld momentum gekry het en dit is daarom onverstaanbaar dat Bheki Cele behou is as minister van polisie.

Hy dra ewe veel skuld aan die gebeure as die vorige minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo.

Die blote herontplooiing van Dlodlo, wie se totale mislukking die land byna in anargie gedompel het, is onaanvaarbaar.

Sy is verskuif na staatsdiens en administrasie en dit sal die land ewe duur kos indien sy daar ook misluk. Sy moes bloot afgedank word.

Nog ’n flater was die behoud van die minister van arbeid en werkskepping, Thulas Nxesi. Hy slaag hoegenaamd nie in sy taak nie en maak veral ’n vyand van die privaat sektor. Sy departement het die arbeidsektor veral tydens die Covid-19-inperkingstyd totaal gefaal.

Die mislukking van die werk van die ongevallekommissaris en noodbystand soos die Ters-fonds is enkele voorbeelde, terwyl werkloosheid onder hom rekordvlakke bereik het.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, skep ook eerder wrywing as wat hy enigiets onder sy beheer bevorder en veral kunstenaars beleef ’n beproewende tydperk tydens die inperking.

’n Gulde geleentheid is ook gemis om die kabinet te verklein en weg te doen met sommige adjunk-ministers, veral in die presidensie.

Hoewel daar weggedoen is met staatsveiligheid as aparte ministerie, is behuising en water en sanitasie geskei wat die aantal ministeries dieselfde hou.

’n Ministerie soos vroue, kinders en mense met gestremdhede kon ook suksesvol met die departement van maatskaplike ontwikkeling gekombineer word, asook die samevoeging van toerisme en kleinsake-ontwikkeling en basiese- en hoëronderwys.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button