LettersOpinion

Brief: Melenie Nel bly voortleef in harte

Vir my het jy getrou opgedra, gebid, gepleit, selfs geld aangedra — altyd getrou op jou pos.

Chrisna van der Walt, Bela-Bela, skryf:

Liewe Melenie, jy het so baie skulpe in Mosambiek opgetel.

Dit was soos ’n heining om jou hut, want dit was vir jou so mooi. So het jy mense om jou bymekaar gemaak: grotes, kleintjies, mooies en minder mooies.

Jy wou altyd ’n verskil maak aan die wêreld se seer — en jy het.

Vir my het jy getrou opgedra, gebid, gepleit, selfs geld aangedra — altyd getrou op jou pos.

Statistiek tik voort … 4 055 501 gevalle wêreldwyd. Dit is die groot C. Covid-19.

Ons raak gewoond daaraan om te hoor so-en-so is siek, opgeneem, weggeneem, in die hoësorg- eenheid, asemnood, respirator — as hulle een kan kry.

Ek groet in die gees —geen kontak, selfoon, om net vir oulaas nog te sê. Dis seer!

Waar jy gelê het, was dit seer, alleen, benoud. Elke teug was ’n stryd.

Ure, dae, jare smelt so gou verby. Dan sien jy Hom. Sy engel! Daar is meer as een. Jy weet dit is tyd. Dankie Christus!

Jy is reg. Die vrede stoot oor jou en jy weet. En so “remove” ek haar van ons gebedsgroepie van 12 jaar. Net so liggies — ’n aanraking op die “touch screen” en dit is verby.

Ek wonder of sy ambassadeurstatus het? Kan sy vir oulaas ’n pleidooi vir al ons gebedsake voor Jesus se voete lê — met meer outoriteit as voorheen? Of gooi sy die laste af, vergeet die kommer en klagtes? Kan sy my pa daar kry en saam ’n afvaardiging maak met ander vir ons gebedsake?

Ek wonder … want dit is die gebede vir my wat ek die meeste sal mis.

  • Melenie Nel, hoof van Huis Tekna in Bela-Bela, is verlede maand dood weens Covid-19-verwante oorsake. Sy was by verskeie liefdadigheidsinstansies in die dorp betrokke.

Related Articles

Back to top button