LettersOpinion

Brief: Só onthou ek my pa, Hans

My pa het altyd staaltjies oor die veld vertel en ons geleer hoe om in die veld van plante te oorleef.

Wikus Vahrmeijer, via e-pos, skryf:

Ek onthou my oorlede pa, Hans Vahrmeijer van Bela-Bela, as iemand wat baie prakties was en altyd ’n plan vir struikelblokke gehad het.

Een van sy gunstelinggesegdes was dat ’n mens se planne nooit moet opraak nie, anders is jy in die moeilikheid.

Ons familie onthou die dag toe hy ’n babastootkarretjie vir my gaan koop het, het hy eers na die wiele gekyk. Hy het later gesê as die stootkarretjie nie meer gebruik word nie, moet die wiele geskik wees om ’n kaskar mee te bou.

Ek onthou ook hoe ons een Saterdagoggend die waentjie van die werkskamer se dakbalke gehaal en dit begin stroop het vir bruikbare onderdele. Laat die Saterdagaand, lankal verby slaaptyd, was die kaskar gereed en veilig verklaar op en af in die straat daarmee te jaag.

Ons het ook as gesin baie tyd in die veld deurgebring. Ons was gereeld op vakansie, want Pa het in die veld gewerk en vir ons was dit die een avontuur na die ander.

Dit het soos vakansie gevoel. Ons het baie tyd saam met hom in Botswana deurgebring.

Ander goeie tye was op my oupa se plaas naby Philipstown in die Karoo en op Eben Cuyler se plaas net buite Modimolle.

Die kosbaarste tye was egter saam met hom op sy eie grond in die Bela-Bela-omgewing. My pa het altyd staaltjies oor die veld vertel en ons geleer hoe om in die veld van plante te oorleef.

Ons het soms koffie gemaak van pitte wat ons in die veld geoes en self gerooster het.

Hy het ’n grondige kennis van die medisinale waarde van plante gehad en het ook die sade van ’n raasblaar ingespan om vir ons elkeen ’n woer-woer te maak.

Ek sal hom altyd onthou as iemand wat graag sy kennis en insig met ander gedeel het, asook sy praktiese uitkyk op die lewe.

Ons gaan hom baie mis, maar hy leef voort in ons harte, ons herinneringe en ons DNS.

Related Articles

Back to top button