LettersOpinion

Brief: ’n Mens is nooit te oud om te leer

Ek het twee motorbande in my motorhuis gekry en summier straat toe gedraf om dit aan die brand te steek.

Gawie Richter, Modimolle, skryf:

Groot was my verbasing toe ek — 14 dae nadat my maandelikse munisipale rekening vereffen is — ’n dreigbrief ontvang het wat my in kennis gestel het dat alle dienste binne 48 uur gestaak sal word indien ek nie my rekening onmiddellik vereffen nie.

Ek was op die plek briesend en het my voorgeneem om die goeie voorbeeld van eg Suid-Afrikaanse betogers te volg. Ek het twee motorbande in my motorhuis gekry en summier straat toe gedraf om dit aan die brand te steek.

Terwyl ek na klippe gesoek het om verbygaande voertuie te bestook en rotse om die pad mee te versper, het my vrou uitasem aangehardloop gekom en gesê daar is ’n kennisgewing per SMS uitgestuur dat alle belastingbetalers sulke foutiewe dreigbriewe ontvang het. Dit het my effens laat kalmeer.

Ek weet van mense met agterstallige rekeninge van tot R21 000 wat nog nooit sulke dreigbriewe ontvang het nie.

Miskien het ek my kruisie agter die verkeerde party se naam getrek. Smaak my as jy vir ’n sekere party stem, word jy nie gedreig as jy nie betaal nie.

Wys jou net, ’n mens is nooit te oud om te leer nie.

Related Articles

Back to top button