LettersOpinion

Brief: Dankbaar om deel te wees van Bela-Bela-gemeenskap

Kom ons reik die hand na ons bure, vriende en selfs hulle wat ons nie ken nie.

Annalie Botha, prinsipaal, Aïda-eiendomme, Bela-Bela, skryf:

Ek kan nie anders as om te getuig van die wonderlike meelewing in ons gemeenskap nadat ons gesin ook deurgeloop het onder die aanslag van die Covid-19-virus nie.

Dr. Meyer de Jonge, wat terloops voorheen nie my huisdokter was nie, het sonder om te skroom ingetree en ons as gesin met ongelooflike toewyding bygestaan.

Die verpleegpersoneel van die Phodi Clinic, wat ek intussen na die Covid-engele herdoop het, was elke dag op hul pos en het, ten spyte van hul eie uitdagings, die pasiënte met deernis versorg. Jackie Huisamen, die beste fisioterapeut wat ek ken, het met haar kundigheid bygedra tot die herstelproses en die apteekpersoneel — van aptekers tot die man op die motorfiets wat medisyne kom aflewer het — het bygedra tot my dankbaarheid vir ’n wonderlike gemeenskap waarin ek woon en werk.

My dogter, Amelia Daling, het ingetree en nie net die huishouding oorgeneem en die huismense versorg nie, maar ook die kantoorverpligtinge, wat nie agterweë kon bly nie, bestuur. Sy is ’n staatmaker.

Die gemeenskap is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en daar is min huishoudings wat nie hartseer, kommer of verlies ervaar het nie.

Daarom wil ek vandag vra: Kom ons reik die hand na ons bure, vriende en selfs hulle wat ons nie ken nie. Almal het bemoediging en ondersteuning in hierdie onseker tye nodig.

My grootste dankbaarheid is teenoor die Hemelse Vader wat ons as gesin deur hierdie moeilike tyd gedra het. Sy genade is onbeskryflik groot.

Related Articles

Back to top button