LettersOpinion

Brief: ANC het nog nie stryd gewen om grondwet te verander, sê Mulder

Dit was insiggewend dat die ANC se voorstelle oor veranderinge slegs deur ANC-lede aanvaar is sonder steun van enige partye, insluitend die EFF.

Dr. Corné Mulder, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -LP en hoofsweep, skryf:

Die ANC het nog nie die stryd gewen om Art. 25 van die grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie en die VF-Plus doen ’n beroep op die publiek om saam met die party te staan om seker te maak dat dit nie gebeur nie.

Die ANC-meerderheid van die veelparty parlementêre Art. 25 ad hoc-komitee oor onteiening sonder vergoeding het ’n konsepwet oor die beoogde verandering aanvaar.

Die onderskeie partye het die afgelope week vir die eerste keer gestem oor die voorstelle wat tydens die afgelope proses.na vore gekom het.

Dit was insiggewend dat die ANC se voorstelle oor veranderinge slegs deur ANC-lede aanvaar is sonder steun van enige partye, insluitend die EFF.

Dit was ook insiggewend dat die EFF nie een keer selfs ’n sekondant kon kry vir enige van hul voorstelle nie — ook nie van die ANC nie — wat beteken dat die EFF-voorstelle in ’n doodloopstraat beland het.

Dié ooglopende gebrek aan samewerking tussen die ANC en die EFF, of enige ander party, beteken dat ’n tweederdemeerderheid in hierdie stadium onwaarskynlik lyk wanneer die konsepwet in die parlement gedebatteer en daaroor gestem moet word.

Die konsepwet gaan nou in die Staatskoerant gepubliseer word waarna die publiek drie weke lank die geleentheid sal kry om daarop kommentaar te lewer.

Dit is dus duidelik dat die verandering aan Art. 25 nog geen uitgemaakte saak is nie en daarom is dit nou van die allergrootste belang dat die publiek soos een man moet opstaan om hul teenkanting saam met die VF-Plus te wys.

Die VF-Plus sal voortgaan om die beoogde wetgewing op elke moontlike wyse te beveg.

Related Articles

Back to top button