LettersOpinion

Brief: TLU SA blameer regering vir die onluste in Suid-Afrika

Dit is Ramaphosa se verantwoordelikheid om om te sien na die veiligheid van elke Suid-Afrikaner.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, skryf:

TLU SA is teleurgesteld in pres. Cyril Ramaphosa en die ANC-regering se hantering van die situasie in Suid-Afrika.

Om bloot ’n pleister te plak op die groot gapende wond van ekonomiese verval, sal beslis nie die probleem oplos nie. Dit is een ding om te sê ons moenie afbreek nie, maar die ekonomie eerder opbou.

Dit is vir ons as TLU SA iets heeltemal anders om inderdaad só te lei, en die regte ekonomiese beginsels bo enige ander aspekte te implementeer, dat die ekonomie opgebou kan word.

Dit is verkeerd om te dink die onluste wat die land op die oomblik lamlê is net ’n gevolg van ontevrede Zuma-ondersteuners.

Dit was bloot die vonk in die kruitvat van wat TLU SA reeds lankal voorspel. Die land se werkloosheidskoers staan op 43%. Onder jongmense is dit meer as 46%. Die ANC-regering het hierdie sosio-ekonomiese probleme geskep en dit sal ’n probleem bly totdat die beginsels vir ekonomiese groei in plek is.

Dit is Ramaphosa se verantwoordelikheid om om te sien na die veiligheid van elke Suid-Afrikaner. Dit is ook die regering se verantwoordelikheid om te verseker dat die situasie in die land gunstig is vir beleggings.

Die president faal in sy primêre verantwoordelikheid as president van die land.

Die land brand en dit is die ANC-regering se skuld. Hulle moes lankal reeds halt geroep het met beleide soos onteiening sonder vergoeding en regstellende aksie.

Hulle moes lankal ferm opgetree het teen korrupte politici en amptenare. Dan was daar nou stabiliteit in die land.

Die heersende onluste het reeds ’n negatiewe impak op die voorsiening van landbouprodukte.

TLU SA voorsien dat ’n toename in plaasaanvalle en die verwoesting van landbouprodukte in die gees van anargie verwag kan word.

Ons spreek ons ten sterkste uit teen die barbarisme wat nou in die land geld. Beskaafde mense wend hulle nie tot misdaad wanneer hulle oor iets ontevrede is nie.

Ons wil elke Suid-Afrikaner, maar veral ons landboulede, aanmoedig om paraat te wees.

Related Articles

Back to top button