LettersOpinion

Brief: Kan Bela-Bela in onseker tye dié verhogings bekostig?

Ons glo dit is in dié tyd waar elke lid van ons gemeenskap (behalwe die oorbesoldigde amptenare) swoeg om kop bo water te hou, eties onverantwoordbaar.

Johan Mills, voorsitter, Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), skryf:

Al die vergaderings, gesprekke en beredeneerde argumente ten spyt, het die Bela-Bela-munisipaliteit eenparig verhoogde tariewe goedgekeur wat inwoners se munisipale rekeninge vanaf 1 Julie met ongeveer 34% sal opstoot.

Ons glo dit is in dié tyd waar elke lid van ons gemeenskap (behalwe die oorbesoldigde amptenare) swoeg om kop bo water te hou, eties onverantwoordbaar.

Hoewel “billike” verhogings by die burgermeester se oorlegplegingsvergadering met die gemeenskap voorgehou is, sien die verhogings wat uiteindelik in die binnekringe tussen die raad en die amptenary goedgekeur is, heel anders daar uit.

Dit was ’n “Zoom-vergadering” waar die publiek uitgehou is. Soos altyd het die waarheid egter uitgekom — net jammer dat dit só weggesteek is dat dit eers met die hersiene begroting in Februarie 2022 hersien kan word.

Ek praat hier van tariefverhogings van elektrisiteit (14,56%), water (9,8%/ per kl en 56% op vaste koste), eiendomsbelasting (3,2%), vullisverwydering (3,2%), sanitasie (3,2%) — oftewel bykans 34% altesaam (sonder die 56% vaste deel op water). Hierdie verhogings bring glo vir die raad ’n begrote surplus van R27 miljoen in.

Hierbenewens “verhaal” hulle ook uit ons ’n verdere R16 miljoen om MIG-fondse (Municipal Infrastructure Grant) vir ’n elektriese substasie wat hulle misbruik en wanbestee het, te vervang en befonds.

Dat dit bloot is om hulself teen vervolging te probeer beskerm, is meer skreiend. Hiervoor kry inwoners net die gewone verwaarloosde paaie en slaggate, ’n rioolstelsel wat glad nie werk nie en infrastruktuur vir elektrisiteit en water waar onderbrekings só algemeen is dat ons dankbaar is dat hulle darem vinniger probeer lap met die refrein: “There is no money for spares.”

Om darem vir ons gemeenskap voordeel uit die onbillikheid te bewerkstellig, het die BBTF op eie inisiatief ’n tender ingewin om die rioolstelsel van Bela Bela in werking gestel te kry. Dit beloop ’n geraamde bedrag van R7,2 miljoen (en nie die R156 miljoen van die munisipale bestuurder nie).

Ons as gemeenskap moet alles in die stryd werp om uit hierdie skandalige verhoging geld hiervoor uit die munisipaliteit te kry voordat dit ook tussen neus en ore verdwyn.

Ons beveel aan dat elke lid van ons gemeenskap wat skade aan ’n pomp, yskas, vrieskas of geyser gelei het wat bewysbaar is weens die kragonderbrekings en die pieke wanneer die krag aan- en afgaan, ’n eis in die Hof vir Kleineise teen die munisipale bestuurder in persoon instel vir skade — solank die skade per eis minder as R25 000 beloop.

Die koste hiervan is minimaal, want die inwoner dra die eis persoonlik voor en die amptenaar moet self verskyn, want die munisipaliteit mag nie prokureurs teen inwoners inspan nie. Die BBTF sal inwoners met die proses bystaan.

Derdens ondersoek die BBTF tans die proses om die verantwoordelike amptenare krimineel te laat vervolg omdat ons eenvoudig nie siviele litigasie kan bekostig nie.

Hoewel dit ’n lang pad is, skep ’n mens moed dat selfs die howe nie meer geneë klink om die ANC-kaders teen korrupsie en wanbesteding te beskerm nie.

Related Articles

Back to top button