LettersOpinion

Brief: Voortsetting van hulpfondstoelaes noodsaaklik

Die werklikheid is dat baie mense sonder enige inkomste sal wees en bloot nie geld sal hê om vir hul gesinne kos op die tafel te plaas nie.

Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Werkskepping en arbeid, skryf:

Dit is van die allergrootste belang dat die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) se tydelike hulpskema (Ters) sonder verwyl moet heropen vir die duur van die aangepaste vlak 4 van die jongste inperkingsregulasies vir dié ondernemings en industrieë wat nie gedurende hierdie periode kan werk of handel dryf nie.

Die VF Plus het ’n skriftelike versoek in hierdie verband gerig aan Thulas Nxedi, minister van werkskepping en arbeid, waarin veral gewys word op die situasie van ondernemings soos restaurante, die drankbedryf, gimnasiums en ander wie se inkomste deur die inperking ontsê word.

Die aanvanklike inperkingsperiode is wel net 14 dae, maar hierdie ondernemings, en almal wie se lewensbestaan daarvan afhanklik is, het bloot nie meer geldelike reserwes om enigsins sonder ’n inkomste te wees nie.

Daar bestaan ook ’n moontlikheid dat die inperkingsperiode verleng kan word. Toegewings van die regering dat restaurante wegneemetes mag verkoop, beteken nie veel nie.

Die meeste restaurante is totaal aangewese op besoekende gaste en die volle personeel kan nie onderhou en betaal word sonder enige inkomste nie.

Die werklikheid is dat baie mense sonder enige inkomste sal wees en bloot nie geld sal hê om vir hul gesinne kos op die tafel te plaas nie.

Die tyd het aangebreek dat daar met reg gevra kan word hoeveel van hierdie lyding en selfs lewensverlies voorkom kon word indien die regering nie tot dusver ’n algehele mislukking gemaak het van die algemene voorbereiding vir die pandemie en die inentingsprogram nie.

Related Articles

Back to top button