LettersOpinion

Brief: Saterdag se fluitjie blaas anders

Die speelveld het oornag verander.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Die volgepakte skoolbus vol jillende kinders maak gereed om te vertrek. Die afrigters wat die spelers vergesel, het al hul dae om die opgewonde leerders te kalmeer.

“Pieter, bêre nou daardie bal! Mense, hoe gouer julle saamwerk, hoe gouer kan julle begin speel daar anderkant.”

Vandag se Saterdag is heeltemal anders. Niemand gaan vandag aan ’n sportsoort deelneem nie. Niemand sal oor vandag se telling stry nie, want sien, die speelveld het oornag verander. Niemand weet eens meer mooi vir watter span hulle gekies is nie.

Die skoolbus staan verlate onder die afdak … sy enjin yskoud. In sy plek kom parkeer ’n taamlik leë minibustaxi reg langs my voor die ou F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle.

’n Klompie onderwysers van ’n naburige skool klim stigtelik uit. Broeiende pare oë gee ’n knipgroet van herkenning in my rigting. ID- en mediese fondsbewyse word vasgeklem in onseker hande.

Gedweë val elkeen in die ry — sonder dat daar eens ’n klok gelui het… Ek glimlag wrang. Wat is gehoorsamer as die soetste skoolkind? Reg geraai! ’n Onderwyser wat aantree vir sy Covid-19 inspuiting.

Dan volg die ironieë in fynbeplande reëlmaat op mekaar. Waar die onderwyser gewoonlik die leiding neem met reëls en prosedures neerlê, is jy vandag noodgedwonge die volgeling.

“Net tien op ’n slag by die hek in, handhaaf steeds julle sosiale afstand, mond- en neusskerm bly op, haal uit en wys (jou ID- en mediesefondskaart), sit slegs op die stoele wat met ’n groot X gemerk is, skuif heeltyd aan totdat jy volgende aan die beurt is.” En jy kry nogal so ewe “raas” as jy ’n bietjie te stadig reageer.

Nog vrae volg by die volgende tafel. Sommige nogal persoonlik. (Die blinde sambok slaan hard. Ons wil mos altyd alles van ’n leerder weet). Jou omdraaikans is nou verby.

Die volgende “Next, please!” is jy. Nog ’n bleek faktuur word voltooi met jou hoeveelste  besonderhede. Die suster sê so ewe “sorry”, maar hel, so ’n inspuiting kan vir jou brand! (Het daardie gr. 11-seuns se boude ook jare gelede só gebrand toe ek hulle as beginnerjuffrou probeer straf het? wonder ek.)

Geen traan, geen troos. Net die papiertjie in my hand as bewys vir die volgende tafel in die herstelvertrek.

Hier sit ons “detensie” vir 20 minute om seker te maak jy kap nie om nie. ’n Siekekamerbed sou baie beter vir my gewerk het.

Die prysuitdeling is uiteindelik verby en ek stap met my Covid-19- Vaccination Record Card van die verhoog af. Geen applous, geen kameras. En Goddank, geen encore nie.

Nog voordat ek by die huis stilhou, toet my selfoon met ’n bevestigingsboodskap en my unieke “Vaccination status” kode. Is dit nou veronderstel om ’n mens beter te laat voel? wonder ek.

Saterdag se anderste eindfluitjie het geblaas. Die telling (Covid-19 versus onderwysers): uitslag hangende … Die mens wik, maar God beskik.

Related Articles

Back to top button