LettersOpinion

Briewe: Jeugdag is ’n klug, sê jeugleier

Daar is werklik niks vir die jeug in Suid-Afrika om te vier nie.

Tammy Breedt, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), jeugleier, skryf:

Die VF-Plus-jeug vier die afgelope paar jaar nie Jeugdag nie en vanjaar was geen uitsondering nie. Daar is werklik niks vir die jeug in Suid-Afrika om te vier nie.

Die Covid-19-pandemie het vir die jeug, veral die jeug van minderheidsgroepe, bewys die regering gee nie om oor hulle nie.

Terwyl jeugwerkloosheid seëvier en eko- nomiese groei nodig is, word die jeug van Suid-Afrika geïgnoreer, daar word teen hulle gediskrimineer en hulle word as tweederangse burgers behandel. Die VF-Plus-jeug het besluit om op te staan vir hul gemeenskappe.

Provinsiale jeugstrukture regoor die land is besig met gemeenskapsprojekte wat ’n daadwerklike verskil maak. Daar word onder meer kos vir behoeftiges ingesamel en versprei, skoonmaakprojekte geloods, opheffings- en ontwikkelingsprojekte vir werklose jeug aangebied, omgewingsbewusmakingsprojekte uitgevoer, insamelingsprojekte vir dierehawens gehou en erfenisterreine skoongemaak.

Gemeenskappe het baie gely tydens die afgelope 15 maande se ramptoestand en grendelstaat.

Baie broodwinners het hul werke verloor en huisgesinne en families is deur die wêreldpandemie uitmekaar geruk.

Dit is juis waarom die VF-Plus-jeug besluit het om vanjaar op die munisipale verkiesings en op gemeenskappe te fokus.

Jongmense moet nou saamstaan en mekaar ondersteun in die stryd om oorlewing.

Related Articles

Back to top button