LettersOpinion

Briewe: Gemeenskap deel in die hartseer

Daar is tans talle mense wat siek is of geliefdes aan die dood afgestaan het.

Johan Mills, Bela-Bela-belastingbetalersforum-voorsitter, skryf:

Lede van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) het die afgelope paar dae diep onder die indruk gekom van die geweldige hartseer in ons gemeenskap weens die talle Covid-19-sterftes. Wat my veral getref het, was toe ek verlede week by die NG Moedergemeente se kerk verbyry en net die begrafnisondernemer se lykswa en nog twee ander voertuie daar sien.

So ’n week of wat gelede het ek met ’n bekende sakeman van die dorp gesels oor my kinders wat siek was en met genade herstel het. Jy kon sien sy hart is gebreek toe hy my vertel dat sy dogter die vorige week oorlede is.

Daar is tans talle mense wat siek is of geliefdes aan die dood afgestaan het. Ons hoor weliswaar van diegene wat meer bekend is, maar daar is soveel ander inwoners, naastes en vriende wat onder ons oë verdwyn sonder dat ons eens daarvan weet.

Ons as gemeenskap deel in die hartseer van elkeen wat familie, geliefdes en vriende aan die dood afgestaan het tydens die pandemie.

Ons doen ’n beroep op ons gemeenskap om saam as een groot gebedsgroep te bid dat dié wat siek is, dié wat hulle versorg en dié wat naastes en vriende aan die dood afgestaan het, deur Sy genade beskerm en vertroos sal word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button