LettersOpinion

Brief: Poets laat manne spaander

Twee penkoppe het tydens een so ’n oefening op die paradegrond besluit om die Stormjaers die skrik op die lyf te jaag.

Gawie Richter, Modimolle, skryf:

Die onlangse beurtkrag het my gedagtes teruggevoer na die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) se “blackouts”.

Die ouer garde sal onthou hoe ons met sonsondergang komberse voor al die huisvensters gehang het sodat daar van buite af geen teken van lig moes wees nie.

Die Stormjaers, ’n vleuel van die Ossewa-brandwag, was tydens die oorlog verantwoordelik vir voorvalle van sabotasie, maar omdat alle vuurwapens, behalwe haelgewere, gekonfiskeer is, het die Stormjaers saans met houtgewere langs die Selonsrivier in die Rustenburg-distrik, marsjeer en hul aanvalle geoefen.

Twee penkoppe het tydens een so ’n oefening op die paradegrond besluit om die Stormjaers die skrik op die lyf te jaag.

Met hul dubbelloophaelgewere en genoeg ammunisie het hulle die paradegrond bekruip en gewag vir die regte oomblik.

Tydens die peloton se “links, regs, links, regs” knal ’n sarsie skote oor hul koppe wat kliphard in die rantjies weergalm.

Daar was nie tyd vir halt en uittree nie, want die Stormjaers het laat spaander die bosse in. Die twee penkoppe het natuurlik geruisloos in die nag verdwyn en niemand het ooit uitgevind van dié poetsbakkery nie.

Ben Pelser, my vrou Heilie se pa, het graag hierdie verhaal vertel en ons het eers later jare uitgevind dat hy een van die twee onnutsige penkoppe was, terwyl sy broer, Jan Pelser, een van die Stormjaers op die paradegrond was.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button