LettersOpinion

Brief: Beter om kurrikulum te dek as om baie vraestelle te skryf

In krisisomstandighede is daar soms ’n neiging om liefs op eksamenafrigting te fokus as op onderrig.

Dr. Wynand Boshoff, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basiese onderwys, skryf:

Die departement van basiese onderwys se aankondiging dat matrieks se Junie-eksamen vanjaar weer gekanselleer word, moet verwelkom word.

Uit ’n opvoedkundige oogpunt is dit belangriker om die kurrikulum deeglik te dek as om ’n groter aantal vraestelle te skryf.

Onderwys word nou al langer as ’n jaar ontwrig. Vanjaar se matrikulante se gr. 11-jaar is reeds ontwrig terwyl die maniere waarop “beurte gemaak” moet word om skool by te woon, onderrigtyd verkort.

In sulke krisisomstandighede is daar soms ’n neiging om liefs op eksamenafrigting te fokus as op onderrig. Dit word met hierdie stap vermy.

Die Nasionale Senior Sertifikaat is in Suid-Afrika van buitengewone belang aangesien die integriteit daarvan beskerm word.

Omdat die gehalte van onderrig skerp tussen skole wissel, is die publiek huiwerig om interne eksamens se uitslae te vertrou. In teenstelling daarmee word die Nasionale Senior Sertifikaat ekstern en sentraal geëksamineer.

Dit is ook hierdie ongelykheid wat die departement dwing om matrikulante voor te berei vir dit wat hulle in die eindeksamen kan verwag.

Die Junie-eksamen word deur skole self bestuur, hoewel vraestelle in sleutelvakke sentraal voorsien word. Die voorbereidende eksamen in September se vraestelle word ekstern opgestel, maar deur skole self gemerk.

Die eindeksamen oorheers die formule vir die berekening van matrikulante se finale punt, maar ander eksamens speel ’n belangrike rol om hulle daarvoor voor te berei. Daarom kan dit nie ligtelik afgeskaf word nie.

Sekere skole kon verlede jaar tydens die grendeltydperk só bestuur word dat ontwrigting tot die minimum beperk is. Sulke skole kan selfs in staat wees om matrikulante ook hierdie Junie te eksamineer.

Dit is belangrik dat skole alles doen wat hulle kan om matrikulante so goed as moontlik vir die eindeksamen voor te berei. Indien die groter onderwysprentjie beskou word, is dit nogtans belangrik dat skole, waar onderrig ontwrig is, eerder die algehele leerplan dek as om ’n bykomende vraestel te skryf. Daarom verwelkom die VF-Plus hierdie besluit as ’n toepaslike vorm van krisisbestuur.

Aan die ander kant moet skole wat die kurrikulum wel kon dek, beslis nie verhinder word om hierdie eksamen aan te bied nie.

Related Articles

Back to top button