LettersOpinion

Brief: Verkwisting is ’n skreiende skande, sê BBTF-voorsitter

Hul “respek” vir die belastingbetalers word in halwe waarhede en selfs blatante leuens verwoord.

Johan Mills, voorsitter, Bela-Bela-belastingbetalersforum, skryf:

Dankie aan almal wat die onlangse begrotingsvergadering van die burgemeester bygewoon en insette gelewer en vrae gevra het. Dankie ook aan die persoon wat gevra het dat die verrigtinge in Afrikaans vertaal word.

As die munisipale raad openbare vergaderings, teenstrydig met sy eie taalbeleid, in Sepedi aanbied, is dit sekerlik die pad wat ons moet loop. Dit is net jammer dat ’n mens tot die besef kom dat die ANC-munisipaliteit geen erns met hierdie oorlegpleging met die gemeenskap het nie en dit bloot beskou as iets waartoe hulle wetlik verplig is.

Hul “respek” vir die belastingbetalers word ook hier in halwe waarhede en selfs blatante leuens verwoord.

Die hoof- finansiëlebeampte verseker die vergadering dat ons kragtariewe met 5,2% sal styg en hoe dit minder is as die inflasiesyfer. Nou blyk dit uit die goedgekeurde begroting dat dit met 14,56% styg. Sy stelling was óf moedswillig onwaar, of dit spruit uit onkunde.

Ook het hy verklaar dat eiendomsbelastings (waar die belastingkoers reeds 62% meer as dié van Sandton is) verhoog moet word omdat soveel mense weens Covid-19 hulpbehoewend geword het en vir ’n afslag en subsidies kwalifiseer. Dit is ’n blatante leuen.

Welsynshulp is ’n nasionale funksie en waar hierdie vrystellings en subsidies via munisipaliteite aan hulpbehoewendes deurgegee word, word dit uit die sogenaamde billike aandeelfondse (equitable share) van die nasionale regering aan munisipaliteite terugbetaal.

Ons watertariewe sou met 12% gestyg het, maar nadat ons vrae hieroor gestel het, sal dit nou blykbaar met 9% styg, terwyl die inkomste op die begroting met omtrent 15% styg. “Go figure”, lui die gesegde.

Sy motivering is steeds daarop gegrond dat Magalies Water (by wie ons 40% van ons water koop) sy tariewe met 12% verhoog het. Hy wend geen poging aan om te bepaal wat Bela-Bela se koste is sodat hy kan voldoen aan die voorskrifte van die waterwet oor hoe die tarief bepaal moet word nie. Water is ingevolge die grondwet ’n basiese mensereg. Derhalwe het die regering bepaal dat slegs die werklike koste om water te lewer van die burgery verhaal moet word. Dit is nie ’n inkomstebron vir munisipaliteite nie.

’n Mens merk in die begroting groot bedrae op wat toegewys word vir allerhande “stem-koop” projekte in die township, maar nie ’n dooie sent vir die herstel van Bela-Bela se rioolstelsel nie. Die rou, onverwerkte riool stroom bloot die veld in.

Ons hoor van ’n R156 miljoen-regeringstoelaag van die Ontwikkelingsbank in die volgende drie jaar, maar die Ontwikkelingsbank gee lenings en, les bes, daar is nog geen aansoek vir sulke fondse gedoen nie.

Die BBTF het kundiges op die terrein gehad en volgens die voorlopige beramings lyk dit asof die werklike koste om die rioolwerk aan die gang te kry, ongeveer R5 miljoen sal wees.

Daar is geen voorsiening vir die munisipale skuld van ongeveer R140 miljoen nie, maar daar is darem ’n voorsiening vir R16 miljoen uit eie fondse om die elektriese substasie te voltooi.

Dit is ’n skande dat die munisipale infrastruktuurtoelae wat die nasionale regering twee jaar gelede hiervoor toegestaan het, onwettig deur die munisipaliteit op lopende koste verkwis is.

Inwoners se betrokkenheid is al wat die toekoms van ons dorp kan red.

Related Articles

Back to top button