LettersOpinion

Brief: Skrap van kategorie skep paradys vir misdadigers

Indien die regering jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met al die moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ’n vuurwapen ter selfverdediging.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -leier, skryf:

Die voorstel dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging as kategorie geskrap moet word in die nuwe wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, sal Suid-Afrikaanse burgers kwesbaar laat teen misdaad en ’n paradys vir misdadigers skep.

Met ’n moordsyfer vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld en die omvang van roof en plaasaanvalle, is dit noodsaaklik dat burgers vuurwapens moet kan besit om hulself te verdedig.

Die probleme in die polisie en die onvermoë om misdadigers suksesvol te vervolg, dien as bewys dat die regering nie sy inwoners behoorlik teen misdadigers kan beskerm nie. Hierdie voorstel is ’n klap in die gesig van wettige vuurwapeneienaars.

Dit is duidelik dat die minister van polisie, Bheki Cele, die blaam vir sy eie onvermoë van behoorlike en doeltreffende vuurwapenbeheer deur die sentrale vuurwapenregister (SVR) na wettige vuurwapeneienaars wil verskuif.

Die minister het reeds in 2018 in die parlement oor die aangeleentheid gereageer op ’n amptelike vraag van die VF-Plus.

Op ’n vraag of die minister van voorneme is om die kategorie om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit te laat verwyder, het die minister geantwoord deur te sê dat hierdie kategorie strenger gemaak sal word.

Die minister het as rede aangevoer dat hy die toename in onwettige vuurwapenbesit wil verminder. Hierdie rede getuig van onkunde.

Onwettige vuurwapens neem toe weens onwettige wapenhandel, diefstal by polisiekantore en swak bestuur van die SVR. Met die skrapping van die kategorie vir selfverdediging, maak die minister die bepalings nie strenger nie, hy verbied dit in effek.

Die jongste misdaadsyfers is ’n bewys dat die polisie nie misdaad, en veral geweldsmisdaad, onder beheer het nie en dus faal in sy grondwetlike plig om die mense van Suid-Afrika en hul besittings te beskerm. Indien die regering jou nie kan beskerm nie, het jy die volste reg om jou en jou gesin met al die moontlike middels te beskerm, insluitend die besit van ’n vuurwapen ter selfverdediging.

Dit is ook ’n gemeenregtelike reg wat elkeen het. Die regering moet ophou om homself te mislei deur die indruk te wil skep dat vuurwapens die oorsaak is van die hoë moordsyfer in Suid-Afrika.

Hierdie bewering word misbruik en die regering gebruik dit as rookskerm om sy eie onbevoegdheid te verbloem.

Die ontwapening van die burgery sal misdadigers bevoordeel en misdaad bevorder wat dramaties sal toeneem.

Die VF-Plus sal alles in sy vermoë doen om die reg van selfverdediging deur die gebruik van vuurwapens te verdedig en te verseker.

Related Articles

Back to top button