LettersOpinion

Brief: Toestand by vuurwapenregister wys waarom talle aansoeke sloer

Daar is tans te veel onnodige administratiewe rompslomp wat lisensiëring betref.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus- (VF-Plus) leier, skryf:

Die chaotiese en wanordelike toestand by die polisie se sentrale vuurwapenregister wys waarom aansoeke vir vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate sloer en feitlik tot ’n stilstand gekom het.

Die agterstand van aansoeke vir vuurwapenlisensies is volgens die polisie tans sowat 250 000 aansoeke. Aansoeke van vuurwapeneienaars vir lisensies en sertifikate word nie behoorlik geliasseer nie en dit lê op stapels in gange en kantore.

Daar is ’n algehele gebrek aan ruimte vir die groot aantal vorms en feitlik geen sprake van ’n werkende liasseerstelsel nie. Indien enigeen dus navraag doen oor sy of haar dokumentasie, sal dit ’n lang en haas onbegonne proses wees om dit op te spoor.

Die probleem word vererger deur die gebou self. Dit is onveilig en gebrekkig. Onderhoud is swak, daar is ’n strukturele probleem van krake in die mure wat ’n veiligheidsgevaar inhou en die gebou behoort in werklikheid ontruim te word.

Die struktuur is waarskynlik nie ontwerp om die gewig van die groot hoeveelheid dokumente te dra nie.

Daar is boonop selfs ’n probleem met rotte in die kantore. Met die instelling van die nuwe vuurwapenwet het ek reeds gewaarsku dat die wetgewing ’n moeilike administratiewe las op die polisie sal plaas wat nie hanteer sal kan word nie.

Hierdie probleem kom daarom reeds ’n lang pad. Daar is aansoeke wat volgens die polisie self reeds meer as twee jaar agterstallig is. Die polisie se mikpunt was aanvanklik om ’n aansoek binne 90 dae af te handel. Met die gevolge van die Covid-19-pandemie is dié mikpunt verleng tot 120 dae. Selfs dit is duidelik heeltemal onmoontlik.

Die VF-Plus is van mening dat die huidige wet gewysig moet word. Daar is tans te veel onnodige administratiewe rompslomp wat lisensiëring betref.

Vuurwapens behoort net een keer gelisensieer te word sonder die vyfjaarlikse hernuwing. Dit sluit bevoegdheidsertifikate in. Daar moet ’n behoorlike elektroniese stelsel in gebruik geneem word soos by die inkomstediens om verwerking te vergemaklik waar personeel selfs van hul huis kan voortgaan om te werk.

Die bestuur is swak en ’n tekort aan personeel vererger die probleem. ’n Verdere oplossing is om die stelsel te privatiseer.

Die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, het in 2010 ’n taakspan saamgestel oor probleme met aansoeke.

Aanbevelings is toe reeds gemaak wat nie nagekom is nie. Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het in Maart vanjaar weer ’n besoek aan die vuurwapenregister-afdeling gebring en ernstige gebreke in die huidige Polvin-stelsel uitgewys wat daartoe lei dat inligting foutiewelik gelaai word.

Related Articles

Back to top button