LettersOpinion

Brief: Burgemeester en haar span kan met reg spog oor ouditverslag

As die eerste burgemeester in Limpopo se demokratiese geskiedenis wat nie deur die ANC verkies is nie, het sy haar baie goed van haar taak gekwyt.

Cilliers Brink, LP en DA- skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake (en voormalige DA-lid van die burgemeesterskomitee in Tshwane), skryf:

Hiermee graag my mening oor berigte oor Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit wat in Die Pos en ander dagblaaie verskyn het.

Dit is nie kinderspeletjies om oor te neem by ’n korrupte en byna bankrot ANC-administrasie, soos wat sy gedoen het nie. Jy moet dekades se wanbestuur vasvat en so gou moontlik regstel.

Jy moet jou opponente probeer oorreed om in belang van die munisipaliteit saam te staan om werkbare begrotings op te stel en te bestuur.

Die aanstelling van bekwame personeel is nog ’n struikelblok, want die ANC-regering volg ’n beleid van kaderontplooiing.

Jy moet reusagtige verwagtinge bestuur met verdwergde hulpbronne. Dit is ’n byna onbegonne taak, maar iemand moes dit aanpak en daardie persoon was die DA se immer optimistiese en superenergieke Marlene van Staden.

As die eerste burgemeester in Limpopo se demokratiese geskiedenis wat nie deur die ANC verkies is nie, het sy haar baie goed van haar taak gekwyt.

Die munisipaliteit se ouditverslag het verbeter en die fondament is gelê vir beter dienslewering, maar daar is nog baie werk om te doen en die gemeenskap sal in die toekoms die vrugte van haar harde werk kan pluk.

My gelukwense aan Van Staden en haar span wat ondanks kritiek en teenkanting steeds uithou en aanhou in belang van die groter gemeenskap.

Ek wens julle Gods rykste seën toe met die groot taak wat nog voorlê.

Related Articles

Back to top button