LettersOpinion

Brief: Verhogings van kragtariewe sal druk op gemeenskap plaas

In die lig van die skokkende onthullings oor die enorme omvang van korrupsie by Eskom, wat selfs vorige beramings in die skadu stel, is dié verhoging ’n absolute skande.

Michal Groenewald, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) skryf:

Die instelling van die jongste voorgestelde verhogings in kragtariewe wat op 1 Julie 2021 by munisipaliteite in werking tree, is nie volhoubaar nie en is ’n onreg teenoor munisipale inwoners.

Met die saamgestelde inflasiegekoppelde verhogings, soos deur munisipaliteite begroot en die nasionaal aangekondigde 17,8%, kom dit neer op ’n effektiewe verhoging van meer as 20%.

In die lig van die skokkende onthullings oor die enorme omvang van korrupsie by Eskom, wat selfs vorige beramings in die skadu stel, is dié verhoging ’n absolute skande.

Die jongste verslae toon dat korrupsie-bevlekte tenders ten bedrae van R178 miljard, wat reeds deur die spesiale onder-soekeenheid en private ondersoekers uitgewys is, wys in hoe ’n mate Eskom deur korrupte ANC-politici en staatskapers tot op die rand van die afgrond gedwing is.

Dit is gelykstaande aan ’n bedrag van sowat R3 100 vir elke landsburger, of sowat 700 000 HOP-huise. Dit beloop byna die helfte van Eskom se uitstaande skuld van R411 miljard waarvoor onder meer munisipale belastingbetalers nou pa moet staan.

Suid-Afrikaanse burgers, sakelui en boere word dus gedwing om die misdrywe van Eskom-misdaadsindikate te subsidieer. Wat die situasie erger maak, is die feit dat hierdie verhogings  op ’n tydstip kom waar die meeste produktiewe burgers en werkskeppers steeds stry teen die verlammende gevolge van die Covid-19-pandemie.

’n Groot aantal klein- tot mediumgroot ondernemings sal nie hierdie buitensporige verhoging kan bekostig nie.

Verdere afleggings of die sluiting van ondernemings is die noodwendige uitvloeisel van dié optrede van die betrokke ANC-politici en hul meelopers in staatskaping.

Die ANC-regering moet ten volle en onvoorwaardelik aanspreeklikheid hiervoor aanvaar.

Suid-Afrikaners moet in die komende plaaslike verkiesing met hul stemme saamstaan en opstaan om Suid-Afrika eens en vir altyd van hierdie giftige mengsel van ANC-kaderontplooiing en korrupsie te bevry.

Related Articles

Back to top button