LettersOpinion

Brief: Vrolike Suid-Afrikaners vier Vryheidsdag, maar is nie vry

Dit is duidelik dat die mense van Suid-Afrika onder ’n wanindruk oor hul vryheid verkeer.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus-leier skryf:

Hoewel Suid-Afrikaners vanjaar weer Vryheidsdag vier, is hulle nie werklik vry nie. Mense moenie die misplaaste idee hê dat blote stemreg jou vryheid gee nie.

Suid-Afrika is te vasgevang in korrupsie, misdaad, armoede en werkloosheid om vry te wees.

Ware vryheid is wanneer jy ’n werk het, ’n goeie bestaan kan voer, veilig is teen misdaad en wanneer die regering van die dag verantwoordelik en in die beste belang van sy mense optree. In Suid-Afrika gebeur die teenoorgestelde.

Wat die Afrikaner betref, kan die regering se optrede gesien word as ’n poging om hom as minderheid verder te marginaliseer.

Regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word al meer en strenger toegepas.

Afrikaans word toenemend onderdruk, soos gesien word by die Universiteit van Stellenbosch, waar daar ’n groot aanslag teen Afrikaans is.

Baie mense is juis weens faktore soos RA werkloos en die gebruik van Kubane te midde van groot werkloosheid in die land is ’n voorbeeld hiervan. Dit ontneem Suid-Afrikaners van werkgeleenthede en, in besonder, die Afrikaner aangesien RA streng wetlike vereistes stel wat teen minderhede diskrimineer.

Die jongste voorbeeld hiervan is die gebeure by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) waar internetdiensverskaffers met R5 miljoen of 10% van hul omset beboet sal word indien hulle sou weier om gehoor te gee aan streng nuwe reëls oor swart aandeelhouding.

Dié nuwe regulasies behels onder meer dat internetdiensverskaffers 30% swart eienaarskap én vlak 4-BBBEE-status moet hê indien hulle ’n lisensie wil bekom.

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat die mense van Suid-Afrika onder ’n wanindruk oor hul vryheid verkeer.

Daar sal eers vryheid wees wanneer die regering homself van korrupsie bevry, almal se verskille en regte erken word, mense veiliger is teen misdaad, wanneer alle instellings almal se taal en kultuur respekteer, wanneer RA en SEB afgeskaf word en wanneer almal kan werk en ’n inkomste verdien.

Related Articles

Back to top button