LettersOpinion

Brief: Meer tyd om kommentaar te lewer oor vergoedingsfonds

Die belastingbetaler sal pa moet staan vir die R250 miljoen vergoedingsfonds wat mense moet vergoed vir nagevolge weens Covid-19-entstowwe en verdien die reg om insette te lewer oor hoe die fonds aangewend sal word.

Philip van Staden, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid, skryf:

Die VF-Plus het sy bedenkinge oor die “foutlose vergoedingsfonds” wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vir nagevolge weens Covid-19-inentings afgekondig het.

Die publiek is net vier dae gegun om kommentaar te lewer op die gepubliseerde regulasies om die Covid-19-vergoedingsfonds in die lewe te roep kragtens die Wet op Rampbestuur.

Die regulasies is op Donderdag 15 April gepubliseer en die sluitingsdatum vir kommentaar van die publiek het op Maandag 19 April teen die einde van die werksdag geëindig.

Dit is vir die VF-Plus onaanvaarbaar en die party dring daarop aan dat die tydperk vir openbare deelname verleng moet word na ten minste 30 dae om die publiek en organisasies ’n regverdige geleentheid te gun om voldoende kommentaar te lewer.

Die belastingbetaler sal pa moet staan vir die R250 miljoen vergoedingsfonds wat mense moet vergoed vir nagevolge weens Covid-19-entstowwe en verdien die reg om insette te lewer oor hoe die fonds aangewend sal word.

Vertroue in die regering is tans op ’n laagtepunt weens korrupsie wat tydens Covid-19 hoogty gevier het en om regulasies te probeer deurdwing deur net vier dae aan die publiek te gun vir kommentaar, is nie net ondemokraties nie, maar laat ook die wenkbroue lig oor waarom daar so haastig opgetree word.

’n Verdere bekommernis is die feit dat die departement van gesondheid in beheer van hierdie fonds geplaas sal word, maar dié betrokke departement is deurtrek van korrupsie en wanadministrasie.

Daar sal dus geen vertroue wees dat dié fonds nie ook geplunder gaan word nie.

Daar moet ook bekend gemaak word presies wie die paneellede van die fonds sal wees en hoeveel lede op die paneel sal dien wat na die eise en appèlsake sal kyk.

Die VF-Plus sal die stigting en administrasie van die voorgenome vergoedingsfonds noukeurig volg en nie huiwer om die nasionale regering verantwoordelik te hou vir enige ongerymdhede nie.

Related Articles

Back to top button