LettersOpinion

Brief: Daar kom dadels van ‘papierwerk’

Ek het self baie briewe geskryf en verwys — selfs na die president van die land — en daar het dadels van gekom.

Tinus Ras, DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:

Ek lees deesdae al hoe meer van diensleweringsprobleme wat by plaaslike politieke partye aangemeld word en dan word daar ’n verklaring uitgereik wat lui daar word aandag geskenk aan die probleem en dit word verwys na ’n hoër politieke gesag vir hulp en die oplossing van die probleem.

Op hierdie gebied swaai die ANC nog die septer; of ons dit nou wil glo of nie. Ek wil dit onomwonde stel dat hierdie manier van doen nie werk nie.

Ek het self baie van hierdie briewe geskryf en verwys — selfs na die president van die land — en daar het dadels van gekom.

Dié skrywes word in die meeste gevalle nie eens erken nie. Ek het tot die oortuiging gekom dat ’n mens maar jou wapenrusting moet aantrek, die swaard optel en die probleem met amptenare moet opneem wat vir die wanbestuur aanspreeklik is.

Ek kan getuig dat dit baie meer suksesvol is as “papierwerk”. As ek die pen-op-papier-roete gevolg het met die onwettige plakkerskrisis van 2020 naby die Tuin Tuiste-aftreeoord, was daardie omgewing nou vol informele sinkhuise.

Danksy druk wat die DA uitgeoefen het vir ’n hofbevel, is daar geen plakker meer op munisipale grond nie.

Die grond is omhein en inwoners het self vir die onkoste betaal. Ons het met volgehoue druk toestemming by die munisipaliteit verkry om die heining op te rig. Dit is sedertdien rustig in die omgewing en inwoners voel veiliger.

Inwoners van Roodepoort en Noodhulp wat verlede maand swaar getref is deur kragonderbrekings, sou waarskynlik nou nog sonder kragtoevoer gewees het as ons die pen-op-papier-roete gevolg het.

Ons het daadwerklik opgetree en geveg vir die koop en herstel van elektriese toerusting. Nee wat, kom ons pak die bul by die horings en ignoreer diegene in hoër gesag wat nie eens die wil het om skrywes te lees nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button