LettersOpinion

Brief: Waar was my mede-inwoners?

Gegewe die haglike toestand van ons dorp, was die verwagting dat inwoners in hul massas by die vergadering sal opdaag, maar die teendeel is waar.

Marié Raath, Bela-Bela, skryf:

Daar is niks oor van ons eens pragtige Sonskyndorp nie. Die rede hiervoor is moontlik gierigheid, korrupsie, onbevoegdheid of doodeenvoudig die gebrek aan belangstelling om diens te lewer.

Die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) het op Saterdag 27 Maart voorkomend opgetree en ’n vergadering met inwoners belê.

Gegewe die haglike toestand van ons dorp, was die verwagting dat inwoners in hul massas by die vergadering sal opdaag, maar die teendeel is waar.

Slegs ’n handjievol inwoners het die moeite gedoen om die vergadering by te woon. Selfs die politieke partye, wat inspraak in die bestuur van die dorp wil hê, het geskitter in hul afwesigheid.

Die DA was die enigste politieke party wat teenwoordig was. Gastehuiseienaars, vakansieoorde, sakelui, verteenwoordigers van burgerregte-organisasies en belastingbetalers het nie die moeite gedoen om te gaan hoor wat die BBTF beoog nie.

Die voorsitter van die BBTF het tydens die vergadering aan die gehoor verduidelik dat samewerking nou van kardinale belang is.

Indien ons as belastingbetalers ’n hofsaak teen die die munisipaliteit oor swak dienslewering wil maak, moet ons hande vat.

Maar waar was die belastingbetalers? Hulle het nie hul eenheid en steun gewys nie. Die huidige regering het bewys dat hulle nie op munisipale vlak die land kan bestuur nie en daarom is dit op die inwoners aangewese om in eie belang op te tree, maar dan moet ons saamstaan.

Ons kan die straat en die park naaste aan ons huis in ’n spanpoging self versorg.

Ons kan die dorp verbeter as elkeen sy of haar deel bydra deur arbeid, skenking, vaardighede of net deur in te val by organisasies wat hul reeds daarvoor beywer. Is dit moontlik dat ons landsburgers kan saamstaan om ons Sonskyndorp te herstel?

Related Articles

Back to top button