LettersOpinion

Brief: Dit was die goeie ou dae

Voedselpryse het die afgelope 11 jaar dramaties gestyg.

Getroue leser, Modimolle, skryf:

Ek woon al 16 jaar in Modimolle. Hoewel ek net 65-jaar jonk is, het diabetes my gesondheid ’n lelike knou gegee en is ek reeds vyf jaar in ’n rolstoel.

Ek het ’n vervullende beroepslewe in die departement van waterwese en die Wetenskaplike- en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) gehad en ook daarna 10 jaar lank by ’n raadgewende ingenieursfirma gewerk.

Maar, soos wat baie mense sal getuig, die oomblik dat jy ’n ledemaat verloor, dink sommige werkgewers jy het ’n breindisfunksie en kan hulle jou nie gou genoeg uit diens stel nie. Dit het my genoop om my stokperdjie voltyds te beoefen.

Ek is ’n ywerige leser en beskou myself as ingelig en ’n persoon met ’n bogemiddelde algemene kennis.

In my ywerige soektog na genoeg leesstof, kan ek nie wag vir Die Pos om elke week op die rak te verskyn nie.

Ek lees die koerant van voorblad tot die kleinadvertensie op die agterblad en geniet dit om op hoogte te bly met ons plaaslike nuus.

Ek het onlangs ’n laai uitgepak en op ’n eksemplaar gedateer 29 Januarie 2010 afgekom. Daar was ’n skatkis van feite wat my mond laat oopval het: Voedselpryse het die afgelope 11 jaar dramaties gestyg.

 

Uittreksel uit Die Pos van 29 Januarie 2010.

 

Advertensies uit die ou uitgawe toon dat ons toe nog drie sakkies met 1 kg pere vir slegs R10 kon koop.

Die Pos berig nog steeds — ná al die jare — oor die Waterberg se skolenuus, polisieoptredes, munisipale dienslewering, interessante rubrieke, sportprestasies en daar is kleinadvertensies vir diegene wat wil koop en verkoop.

Die fokusblaaie is nog al die jare goed nagevors en lekker leesstof.

Die koerant van daardie week was sommer ’n lekker dik een van 44 bladsye. Soos Bruce Springsteen sing: “Glory days!”

Dankie aan almal by Die Pos wat weekliks vir ons vars nuus uit eie geledere bring en ons op hoogte van sake hou.

Related Articles

Back to top button