LettersOpinion

Brief: Geloof, hoop en liefde is nodig, maar liefde is die nodigste

Dit wat ’n gewone skooljaar moes wees, is hewig ontwrig en alles wat bekend was, is omvergegooi.

Denise Edwards, koördineerder van die Attention Deficit Hyperactivity Association Support Group (Adhasa) se Bela-Bela-tak, skryf:

Die wêreld is verlede jaar tot ’n stilstand geruk deur ’n baie klein virus genaamd Covid-19. Die uitwerking daarvan op ons lewens was en is steeds enorm.

Finansieel, emosioneel en geestelik is dit uitmergelend. Dit wat ’n gewone skooljaar moes wees, is hewig ontwrig en alles wat bekend was, is omvergegooi.

As ma van ’n kind met spesiale behoeftes het ek daagliks ervaar hoe die pandemie haar lewe op sy kop keer. Die emosionele skade wat aangerig is, wys nou eers werklik. Sy het skool geniet. Sy was lief vir haar juffrou en eensklaps was alles weg.

Skielik moes sy van die huis af skoolgaan en skoolwerk is per Whatsapp of per hand afgelewer. Intussen het haar juffrou ook te midde van die krisis bedank. My kind was gebroke — tyd vir afskeid neem was daar nie.

Die nuwe jaar het aangebreek en soos dit nou al in die volksmond bekendstaan, was die “nuwe normaal” met ons. ’n Nuwe manier van skoolgaan. Nuwe skoolreëls, nuwe juffrou, nuwe taxibestuurder, nuwe roetine. Selfs ’n nuwe manier van kerk en Sondagskool toe gaan.

Meteens was alles net te veel vir hierdie pragkind van my. As ’n kind met die intellektuele ontwikkeling van ’n vyfjarige, het niks hiervan vir haar sin gemaak nie.

Sy het nie die vermoë om haar gevoelens in woorde uit te druk nie en skielik het my liewe kind verander in ’n aggressiewe, skreeuende, huilende, vloekende kind. Die medikasie wat moes help om haar gemoed te reguleer, was nie meer voldoende nie. Die nuwe juffrou het haar bes probeer, maar was radeloos. Ek as ma was radeloos.

Skielik was dit chaos by die huis en by die skool. Onderwysers en ander mense het probeer help, maar Sus wou eenvoudig nie “saamwerk” nie.

Ek het haar uit radeloosheid na ’n pediater geneem vir ’n herevaluering van haar medikasie. En toe deurloop ek ’n kursus oor die effek van trauma op kinders met leer- en intellektuele gestremdhede en ’n openbaring volg.

Ek besef: Dit is haar manier om te sê: “Koester my, hou my vas, ek het ekstra “tender loving care” nodig.”

Kinders soos sy kan enige tyd ’n sneller ervaar wat hul terugplaas na vorige fases van grootword.

Hierdie pandemie het my liefie teruggeplaas in haar babafase. Sy het weer daardie koestering nodig gehad wat elke ma vir haar baba gee.

Jy slaan nie ’n baba as hy of sy huil nie; jy voed, troos, gee medisyne en baie liefde.

Hoe ironies is dit dat ons soms vergeet van daardie basiese dingetjies in die lewe? En al wat oorbly is geloof, hoop en liefde, maar die grootste hiervan is die liefde.

1 Kor 13: 13 het beslis vir my nuwe betekenis gekry — die liefde oorwin alles.

Related Articles

Back to top button