LettersOpinion

Brief: Premier van Limpopo gebruik Covid-19 as verskoning vir verval en korrupsie

Mathabatha maak geen melding van daadwerklike optrede teen korrupte amptenare en hoe die miljoene rand wat gesteel is, verhaal gaan word nie. Pleks van vervolging, word korrupte amptenare beloon deur hulle te ontplooi in selfs beter poste.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus provinsiale leier, Limpopo, skryf:

Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, leef in ’n droomwêreld terwyl hy die Covid-19-pandemie voorhou as die rede vir die daaglikse korrupsie en agteruitgang van die provinsie.

Planne sonder optrede is waardeloos. Die premier moet eerder aandag skenk aan die rede waarom soveel vorige projekte nooit voltooi is nie of misluk het.

Hy maak geen melding van daadwerklike optrede teen korrupte amptenare en hoe die miljoene rand wat gesteel is, verhaal gaan word nie. Pleks van vervolging, word korrupte amptenare beloon deur hulle te ontplooi in selfs beter poste.

Hierdie situasie lei tot die verval van munisipaliteite en provinsiale departemente in Limpopo. Swak watertoevoer in dorpe is in stryd met basiese menseregte en is die gevolg van wanadministrasie en ’n gebrek aan beplanning.

Paaie is vervalle en instandhouding geskied traag of glad nie wat lei tot finansiële verliese vir inwoners, boere en sakelui. Die premier glo verkeerdelik dat die kosmetiese veranderinge by onder meer die Mogalakwene-munisipaliteit tot ’n verbetering in dienslewering sal lei.

Die situasie is eerder besig om te versleg. Limpopo se gesondheidsdepartement kon nie daarin slaag om provinsiale hospitale betyds gereed te kry te vir die Covid-19-pandemie nie. Verder skiet gesondheidsorg in die provinsie ver te kort.

Misdaad vier hoogty en veral misdade soos plaasmoorde en misdade teen vroue en kinders moet dringend aangespreek word. Die premier gee nie besonderhede van sy planne om Limpopo se ekonomiese herstel te versnel nie.

Daar is geen planne om ondernemerskap te stimuleer en rompslomp wat die skepping van werkgeleenthede en ekonomiese groei kan belemmer, uit te skakel nie. Die ontwikkeling van die spesiale ekonomiese sone (SES) van Musina-Makhado is voorts ’n omstrede projek weens die omgewingsensitiwiteit van die gebied.

Die VF-Plus sal wil sien dat alle nywer- heidsgebiede in die provinsie tot SES’s verklaar word om entrepreneurskap en beleggings na die provinsie te lok. 

Die VF-Plus stel ook voor dat van die sones in Limpopo vrygestel word van enige regeringsinmenging en dat die ontwikkelingsresultate daarvan vergelyk word met dié van ander SES’s wat onderwerp is aan regeringsinmenging.

Die party verwelkom die ondertekening van diensleweringsooreenkomste met LUR’e en versoek dat die kontrakte beskikbaar gestel word om oorsig te vergemaklik.

Die VF-Plus sal nie toekyk hoe voortslepende korrupsie en onbevoegde amptenare die provinsie langer gevange hou en in die pad staan van skoon en doeltreffende regering nie.

Die tyd het aangebreek om hierdie mense verantwoordelik te hou vir hul optrede.

Related Articles

Back to top button