LettersOpinion

Brief: Straf hulle by die stembus, vra Vryheidsfront-Plus

Dit is tyd dat die kultuur van wanbestuur in munisipaliteite beëindig word.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), provinsiale leier: Limpopo en lid van die wetgewer, skryf:

Die VF-Plus in Limpopo sal die provinsiale regering dwing om ingevolge wetgewing op te tree teen munisipaliteite in dié provinsie wat nie hul wetlike verpligtinge teenoor inwoners nakom nie.

Die VF-Plus sal ook strafregtelike klagtes indien teen munisipale amptenare wat hul wetlike verpligtinge versuim om gemeenskappe by te staan wat dienslewering betref. Dit is tyd dat die kultuur van wanbestuur in munisipaliteite beëindig word.

Gemeenskappe het genoeg gehad van munisipale mislukkings soos slaggate, rommel en riool wat besoedeling van waterbronne veroorsaak en swak elektrisiteits- en watertoevoer weens die agteruitgang van infrastruktuur.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (Modimolle, Mookgophong en Vaalwater) is ’n uitsondering. Hulle het op Vrydag 29 Januarie drie amptenare ontslaan ná ’n tugproses waarin hulle skuldig bevind is aan wangedrag.

Aan die anderkant het die provinsiale ANC dit goedgedink om Andrina Matsemela, burgemeester van die Mogalakwena-munisipaliteit (Mokopane), te herroep, maar haar te her-ontplooi na ’n distrik net buite dié munisipaliteit.

Die herontplooiing van ANC-kaders van een munisipaliteit na ’n ander is een van die groot redes vir die verval van munisipaliteite.

Die VF-Plus moedig moedelose inwoners aan om van die plaaslike munisipale verkiesing later vanjaar gebruik te maak om hul misnoeë met die toedrag van sake uit te spreek deur die ANC en sy mislukte beleid van kaderontplooiing by die stembus te straf.

Related Articles

Back to top button