LettersOpinion

Brief: Ek onthou die gloriedae van Transnet en die kragnetwerk

Dit maak ’n mens hartseer om dié tipe sabotasie te sien en te weet dat sekere tipe van die geleiers uniek aan Transnet is.

Stieler van Eeden, voormalige spoorwegamptenaar, Waterberg, skryf:

Hoe opmerklik was dit om ’n skrywe in die Ons Hoor-kolom raak te lees oor die verwoesting, diefstal, plundering en stroping van die Spoornet-bobaangeleiers tussen Pyramid en Polokwane. Weens die oliekrisis in die laat sewentigerjare is daar destyds besluit om sekere trajekte van krag te voorsien.

So is daar in Januarie 1980 besluit om die Pyramid-Pietersburg-trajek met ’n 25 KV-wisselstroom te elektrifiseer teen ’n koste van R84,1 miljoen.

Die siviele ingenieurswerk is in twee fases verdeel. ’n Kontrak is in Oktober 1980 met ’n maatskappy gesluit vir die ontwerp, voorsiening en oprigting van die volledige wisselstroom en dié projek is binne ’n paar maande teen ’n koste van R11,6 miljoen voltooi.

’n Kontrak is toe gesluit vir die voorsiening van nege substasies en agt koppelstasies teen ’n bedrag van ongeveer R5 miljoen. Die omvang van die kragkontrak het oor 416 km gestrek en meer as 6 300 pale is opgerig. Die totale bedrag vir die elektriese werk was ongeveer R24,5 miljoen.

Die eerste kragaangedrewe toetstrein het in Junie 1984 deur die trajek beweeg en verdere ritte is onderneem om te verseker dat die infrastruktuur aan die vereistes voldoen. Die amptelike inwyding van die lyn het in September 1984 plaasgevind.

Die rede hoekom ek hierdie skryf: Ek was die persoon wat al die skakels toegemaak het vanaf Eskom, deur ons substasies, om die bobaan-geleiers met krag te voorsien vanaf Pyramid tot in Pietersburg. As spoorwegamptenaar was ek betrokke by die konstruksie en ontwikkeling van die kraglyn en die substasies.

Ná my uittrede in 2007 het ek steeds hierdie kraglyn as trotse werk beskou, veral omdat daar min onderbrekings of foute plaasgevind het. As ek nou op die R101-pad tussen Bela-Bela en Pyramid of noord tot in Polokwane ry, neem ek waar dat feitlik al die geleiers geplunder, verwyder of gesteel is.

Dit maak ’n mens hartseer om dié tipe sabotasie te sien en te weet dat sekere tipe van die geleiers uniek aan Transnet is. Blykbaar is nog niemand in hegtenis geneem vir die plundering van die infrastruktuur nie. Miljarde rande is nou daarmee heen.

Die bobaan-geleierdepot bestaan steeds in Polokwane, Mokopane en Bela-Bela met die nodige instandhoudingspersoneel. Maar wat hulle deesdae doen, met hul volle salarisse, weet niemand nie — alles behalwe instandhouding.

Ek wil die voorspelling maak dat daar nooit weer ’n kragaangedrewe trein van Pyramid na Polokwane sal ry nie.

Die koste om die nodige herstelwerk te doen, sal astronomies wees en die risiko dat dit weer gesteel kan word, net te groot. Diesellokomotiewe loop deesdae skaars.

Al wat ek wil sê is: Voorspoed Transnet.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button