LettersOpinion

Brief: Regering se alleenreg met entstowwe problematies

Die privaat sektor moet toegelaat word om die entstowwe te koop, berg en versprei met die nodige regulasies. Die regering kan nie die alleenkoper en verspreider wees nie.

Philip van Staden, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid, skryf:

Die VF-Plus waarsku dat die regering se alleenreg met die aankope en verspreiding van entstowwe teen Covid-19 problematies kan wees in ag genome die grootskeepse korrupsie wat verlede jaar plaasgevind het rakende die koop van persoonlike beskermde toerusting waar ANC-politici en amptenare betrokke was.

Die publiek het lankal reeds alle vertroue in die regering verloor en dit is moeilik om die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se onderneming te glo dat die regering korrupsie en bedrog met die koop van entstowwe sal uitskakel deur die proses te sentraliseer.

Die VF-Plus staan skepties teenoor die minister se uitsprake hieroor. Dit bied geen waarborg dat korrupsie nie sal plaasvind nie.

Die privaat sektor moet toegelaat word om die entstowwe te koop, berg en versprei met die nodige regulasies. Die regering kan nie die alleenkoper en verspreider wees nie.

Daar sal ’n vennootskap tussen die openbare- en privaat sektore moet wees om ’n sukses te maak van die implementering van Covid-19-entstowwe.

Die staatslaboratoriums se geriewe is ook nie geskik om entstowwe onder -70 °C te berg nie en dit alleen skep ’n groot probleem. Daar is reeds bewys dat geen waarde geheg kan word aan die minister se onderneming dat daar vanaf 7 Januarie elke dag van die week 316 000 inentings gedoen sal word om teen die einde van die jaar 40 miljoen mense in te ent nie.

Die regering het doodeenvoudig nie die vermoë nie; selfs al word 6 300 mense heeltyds aangestel om daarmee te help.

Die regering wil klaarblyklik die pandemie gebruik om te probeer bewys dat hy ’n sukses kan maak van die nasionale gesondheidsversekering (NGV). Hulle kry egter die teenoorgestelde reg en hul optrede wys opnuut dat die NGV in ’n fiasko sal eindig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button