LettersOpinion

Brief: Dankie aan al die boere

Kom ons lig die hoed en bid vir elke boer wat sorg vir kos op ons tafels, want sonder hulle en Godsgenade kan ons nie oorleef nie.

Gawie Richter, Bosveldsig, Modimolle, skryf:

Of dit by ’n stalletjie langs die pad, ’n straathoek of winkelrak is, oral sien ons die hand van ’n boer.

As verbruikers kan ons maklik kla, maar weet ons werklik wat gebeur vanaf ’n saadjie tot die produk op die etenstafel verskyn?

Boere staan op hul knieë omdat reën steeds skaars is, die son alles genadeloos verskroei en boorgate besig is om op te droog.

In vandag se tye gaan boerdery nie net meer oor saai en oes nie, maar oor kennis en wetenskap.

Ná hierdie jaar wat verby is, kan geen verbruiker kla dat daar nie kos op die rakke was nie.

Dit alles te danke aan ons sonverbrande boere. Hulle het baie struikelblokke oorkom, maar steeds getrou die land se spens vol gehou.

Terwyl ons kon rus en die feestyd geniet, het hulle onverpoosd gewerk en moes hulle meer as ooit hul bates en produkte beskerm teen die mense wat nie huiwer om te roof en plunder nie.

Kom ons lig die hoed en bid vir elke boer wat sorg vir kos op ons tafels, want sonder hulle en Godsgenade kan ons nie oorleef nie.

Mag alle boere gespaar bly en mag oorvloedige reën in hierdie nuwe seisoen val sodat die vrug van hul arbeid op die tafels kan verskyn.

Related Articles

Back to top button