LettersOpinion

Brief: ANC-regering het Suid-Afrika gefaal met eerste inperkingstyd

Die ekonomie moet nou weer ly onder die verkeerde besluite en onbevoegdheid van die regering terwyl dit nie bekostig kan word nie.

Dr. Pieter Groenewald, nasionale leier: Vryheidsfront-Plus, skryf:

Die feit dat Suid-Afrika op inperkingsvlak drie bly te midde van ’n enorme styging in nuwe gevalle van Covid-19, bewys dat die regering verlede jaar heeltemal geoorreageer het met uiters drakoniese maatreëls wat die ekonomie onnodige skade berokken het.

Die geleentheid is nie tydens die eerste inperkingsperiode benut om die gesond- heidstelsel gereed te kry vir ’n tweede golf nie.

Veldhospitale wat ingerig is, is ontdaan gemaak, welwetende daar kan ’n volgende golf kom. Die uiters strawwe en uitgerekte inperkingstydperk waartydens baie Suid-Afrika- ners hul werk en inkomste verloor het, is nie na behore benut om gesondheidsdienste gereed te kry nie.

Die ekonomie moet nou weer ly onder die verkeerde besluite en onbevoegdheid van die regering terwyl dit nie bekostig kan word nie. Onsekerheid oor die heropening van skole is teenproduktief en die regering sal vinnig duidelikheid hieroor moet gee.

Wat die jongste maatreëls betref, is dit irrasioneel dat strande steeds gesluit bly terwyl die polisie soveel tyd, energie en geld bestee om enkelinge op strande aan te keer en te vervolg. Dit terwyl daar talle gebiede in die land is waar gesondheidsprotokolle hoegenaamd nie nagekom word nie en inperkingsmaatreëls verontagsaam word.

Die polisie se energie kan veel eerder daarvoor aangewend word en om gewone misdaad te bestry. Dit is eweneens irrasioneel om die alkoholverbod te verleng. Die verbod slaag nie in sy doel nie. Dit skep bloot onwettige handel, verminder regeringsinkomste en ontneem baie mense in hierdie industrie van ’n lewensbestaan met poste wat tot niet gaan.

Daar kan hoogstens streng beperkings op die verkoop van alkohol wees, maar ’n algehele verbod doen meer skade as goed.

Wat die entstof betref is dit onaanvaarbaar dat gevangenes volgens pres. Cyril Ramaphosa die middel sal ontvang voor die gewone publiek wat vir die land se ekonomiese voortbestaan moet sorg.

Die regering het misluk om ’n entstof vroegtydig te bestel en sy plan vir die bekomming daarvan is grootliks onrealisties.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button