LettersOpinion

Brief: Onskuldige mense betaal die duurste

Die emosionele impak daarvan om aan die einde van die eksamen weer te gaan sit, boonop vir van die moeilikste vraestelle van die jaar, moenie onderskat word nie.

Dr. Wynand Boshoff, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basiese onderwys skryf:

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het verlede week aangekondig dat uitgelekte vraestelle op 15 en 17 Desember herskryf gaan word.

Om hierdie stap te verwelkom, is soos om ’n ambulans te verwelkom: Indien daar nie ’n ramp was nie, was dit nie nodig nie.

Die wiskunde vraestel 2 word om 14:00 op Dinsdag 15 Desember herskryf en fisiese wetenskappe se vraestel 2 om 09:00 op Donderdag 17 Desember.

Die inligtingstegnologie-vraestel en rekenaartoepassingstegnologie-vraestel sal om 14:00 op dieselfde dag geskryf word. ’n Matriekeksamen ontwrig kandidate in ’n normale jaar.

Die rooster word met groot sorg uitgewerk sodat daar voldoende tyd vir voorbereiding is. Verder is die afsluiting van die eksamen gewoonlik ’n bron van groot vreugde en dit word met oorgawe gevier.

Die emosionele impak daarvan om aan die einde van die eksamen weer te gaan sit, boonop vir van die moeilikste vraestelle van die jaar, moenie onderskat word nie.

Buitendien word matriekvraestelle maande vooraf met die grootste sorg voorberei en gemodereer om die hoogste moontlike gehalte te verseker. Dit is uiteraard nie moontlik met ’n vraestel wat op so ’n kort kennisgewing beskikbaar moet wees nie.

Leerders se matriekpunte is iets wat lewenslank in werk- en studie-aansoeke vereis word. Daarom dat leerders, onderwysers en selfs ouers geen steen onaangeroer laat om so goed moontlik te presteer nie. Dit geld veral vir sleutelvakke soos wiskunde en fisiese wetenskappe.

In werklikheid beleef matrikulante vanjaar iets wat in die “grootmenswêreld” endemies is” ’n Klein groepie wat oneerlik optree en óf daarmee wegkom, óf die lewe vir al die ander verontrief.

Die VF-Plus wens almal betrokke sterkte en helderheid van verstand toe.

Related Articles

Back to top button