LettersOpinion

Brief: Gedenk só die Gelofte van 16 Desember 1838

Die uitkoms van die Gelofte was nie net vrede tussen die Zoeloes en al die ander inheemse volke nie, maar veel meer — dit was die begin van die Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika.

Reint van der Pol, Bela-Bela, skryf:

Die geskiedenis van 1838 waartydens die Gelofte deur die Voortrekkers in die destydse Natal afgelê is, lees soos ’n boeiende avontuurverhaal — vol van mannemoed en geloofsdade. Gesaghebbende geskiedenisboeke gee meestal die feite van gebeure weer, maar meld weinig oor die menslike aspekte van name wat genoem word.

Die menswees en sy geestelike onderbou word gevind in dagboeke, biografieë en verhale wat betroubaar opgeteken is. In hierdie verhale kry die karakters as’t ware weer lewe en kry die leser ’n blik op die wedervaringe wat hulle in daardie ongerepte en onbekende omgewing ondervind het.

Ook hul godsdienstige sy kom dan tot lewe en die Gelofte-aflegging deur die ossewa-kommando van Andries Pretorius en Sarel Cilliers kan dan beter begryp word.

’n Aangrypende ontdekking vir die noukeurige leser is die teksvers uit die Bybel wat tydens die eerste Gelofteaflegging se byeenkoms aan die 464 manne van die kommando voorgehou is.

Die teksvers waarmee Cilliers die manne voorberei het, was Rigters 6:24. Die keuse van hierdie teksvers dui daarop dat die soeke na vrede aan die basis van die Gelofte en die daaropvolgende Slag van Bloedrivier gelê het.

Die uitkoms van die Gelofte was nie net vrede tussen die Zoeloes en al die ander inheemse volke nie, maar veel meer — dit was die begin van die Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika.

Hierdie grootse gebeurtenis in ons land se geskiedenis bind almal wat hulself vereenselwig met die Gelofte van 1838 om jaarliks met vreugde die Gelofte op 16 Desember te hernu en as ’n dankdag aan God te bring.

Verskeie Geloftefeeste word in ons lesersgebied aangebied. Kom ons doen soos wat Ps. 50:14 en 76 ons leer: “Offer dank aan God en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.”

Related Articles

Back to top button