LettersOpinion

Brief: Plaaslike regering is ANC- regering se grootste mislukking

Funksionele munisipaliteite bestaan feitlik nie meer nie en infrastruktuur het in duie gestort.

Wouter Wessels, Vryheidsfront-Plus-LP en hoofwoordvoerder: Finansies, skryf:

Die ANC-regering se grootste enkele mislukking is plaaslike regering. Funksionele munisipaliteite bestaan feitlik nie meer nie en infrastruktuur het in duie gestort. Tog word ’n bankrot Suid-Afrikaanse-lugdiens (SAL) male sonder tal te hulp gesnel ten koste van dienslewering. Een van die grootste redes vir die mislukking is sentralisering. Dit is wel in die mens se natuur om laer vlakke wat nie na wense funksioneer nie, uit te skakel en vanaf die hoogste vlak beheer oor te neem.

Sentralisering is egter nie die oplossing vir plaaslike regering nie. Met die samevoeging van munisipaliteite word die teenoorgestelde bereik as wat die doelwit was. Dienslewering en die finansiële posisie van die groter munisipaliteite verswak eerder as wat dit verbeter.

’n Nuwe model vir plaaslike regering is nodig. Een van kleiner munisipaliteite waar dienslewering nader aan die inwoners gebring word. Verkeerde prioriteite speel ook ’n groot rol in die mislukking op plaaslike regeringsvlak.

’n Voorbeeld is die hoeveelste reddingsboei wat nou weer met belastinggeld na die SAL uitgegooi is ten koste van dienslewering.

Die ANC is vinnig om die personeel van die SAL te hulp te snel, maar hy los die mense van Suid-Afrika wat onder swak dienslewering ly om na hulself om te sien.

Die ANC-regering moet ook verantwoordelikheid neem vir die mislukking van die SAL wat nou reddingsboeie noodsaak. Wat dienslewering betref staan die ANC ongevoelig teenoor die mense van Suid-Afrika aangesien broodnodige geld vir hierdie dienste weggelei word tot voordeel van die SAL-personeel.

Wanneer dit kom by riool wat deur strate loop, vervalle infrastruktuur, haglike gesondheidsdienste en ontoereikende veiligheidsdienste wat krisisafmetings aanneem, staan die ANC egter onge- voelig.

Om hierdie mislukkings te verbloem, gebruik ANC-politici geykte retoriek soos wit bevoorregting. Dit werk nie meer nie.

Die tyd het aangebreek dat die regering eerder opstaan en erken dat hy misluk het, dat Suid-Afrika op die rand van die fiskale afgrond staan en dat almal moet saamwerk om uit die moeras te kom.

Die eerste wat reggeruk moet word, is dienslewering op plaaslike regeringsvlak. Daarsonder sal Suid-Afrika nie ekonomies oorleef nie.

Related Articles

Back to top button