LettersOpinion

Brief: Sonstraalskool gee om vir leerders

My dankbaarheid as enkelouer het nie perke as dit by hierdie toegewyde personeelkorps kom nie.

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Ek wil my dank en waardering betuig aan die beste skool vir leerders met leergestremdhede:

Die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle. Die Covid-19-pandemie het vir ons almal groot uitdagings gebring.

Talle ouers het hande in die hare gesit met kinders wat moet terug skool toe te midde van onsekerheid oor die pandemie.

Vir hoofstroomleerders was dit ’n uitdaging en aanpassing, maar soveel te meer vir leerders met spesiale behoeftes en hul ouers. Ons grootste uitdaging as Bela-Bela-ouers, is vervoer.

Hoe kry ons ons kinders by die skool en weer veilig tuis as hulle reeds weens ’n verskeidenheid probleme meer vatbaar is vir die koronavirus.

Met hierdie uitdaging het ek vir Hantie van Aardt, skoolhoof, gekontak en gevra hoe ons kan saamstaan om my dogter deur die jaar te help.

Ek wil nie hê sy moet benadeel word weens struikelblokke waaroor sy geen beheer het nie. Sy het dadelik ingewillig, die onderwyser betrek en gesê ons kan saam ’n werkbare plan bedink. Sedert Mei word daar weekliks tuiswerk vir my dogter in Bela-Bela afgelaai.

Sy doen dus afstandsonderrig, want haar werkstukke word geassesseer.

My dankbaarheid as enkelouer het nie perke as dit by hierdie toegewyde personeelkorps kom nie. Dit is nie net die hoof nie, maar ook ander personeellede wat by die projek betrek is.

Hulle maak dit vir my liefkind moontlik om op datum te bly met haar skoolwerk.

Julle verdien elkeen ’n medalje vir jul liefde vir ons kinders en jul ondersteuning aan die ouers. Nogmaals dankie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button