Magda Pretorius, Modimolle, skryf:
Ek wil graag ’n pluimpie vir Desiré Ledwaba van die Vodacom-winkel in Modimolle gee.
Ek het twee jaar gelede ’n kontrak met Vodacom gesluit en 18 maande lank gesukkel om my naam korrek op my faktuur te laat verskyn.
Ek het ook elke maand ’n faktuur van ’n ander persoon op my e-pos ontvang. Niemand by Vodacom se hoofkantoor of by hul kliëntediensafdeling kon dit vir my regstel nie.
Ek moes tot beëdigde verklarings by die polisie gaan aflê en die lêer met onsuksesvolle Vodacom-korrespondensie het dikker as my Bybel geword.
Ek het ná talle onsuksesvolle pogings uiteindelik by Desiré beland.
Sy het my baie professioneel en in Afrikaans gehelp en binne ’n week was my jare lange probleme met my diensverskaffer iets van die verlede.
Sulke vriendelike en ongelooflike vinnige diens verdien ’n pluimpie!